Nuus 15:00
BULLETIN 1 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In dié bulletin:
# Die geskorste regter, Tshifhiwa Maumela, sal voor die Regterlike Tribunaal verskyn
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid veroordeel die verpolitisering van die Joslin Smith-saak
# En, Rugby: Bongi Mbonambi sal die Haaie teen die Leeus aanvoer
# Die geskorste Gautengse Hooggeregshof-regter, Tshifhiwa Maumela, sal dié maand voor ‘n Geregtelike Gedragstribunaal verskyn. Die ondersoek, gelei deur die afgetrede Konstitusionele Hof-regter Chris Jafta, spruit uit ‘n klag deur die Gautengse regterpresident, Dunstan Mlambo, oor onder meer buitensporige vertragings met die lewering van uitsprake. Judges Matter se navorsings- en voorspraakbeampte, Mbekezeli Benjamin, sê indien Maumela skuldig bevind word, kan hy moontlik verwyder en vervolg word:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, veroordeel die politisering van die saak van die sewejarige Joslin Smith van Saldanhabaai aan die Weskus, wat al byna twee weke vermis word. Hy het mense en groepe gevra om hulle daarvan te weerhou, en sê dis onsensitief teenoor die betrokke families en gemeenskappe. Allen vra ‘n gemeenskaplike doel om Joslin ongedeerd te vind en haar veilig met haar gesin te herenig. Hy hoop om later die jongste inligting oor die soektog te deel:
# Die Skukuzu-Streekshof in Mpumalanga het ‘n man 12-jaar regstreekse gevangenisstraf opgelê vir stropery-verwante oortredings. Veldwagters het voetspore gevolg in die Kruger-wildtuin wat hulle na Lindelani Mdletshe gelei het. ‘n Beweerde medepligtige, Rhody Ndlovu, het aanvanklik ontsnap, maar albei is betrap in besit van onwettige vuurwapens. Monica Nyuswa van die Nasionale Vervolgingsgesag sê Mdletshe is skuldig bevind toe ballistiese bewyse die vuurwapen met renosterstropery verbind het:
# Rugby: Verenigde Rugbykampioenskap-aksie hervat dié naweek met die Haaie wat na Johannesburg reis om die Leeus môremiddag te pak. Die Wêreldbeker-wenner Bongi Mbonambi is die kaptein van die Haaie in die afwesigheid van sy mede-Springbok Lukhanyo Am, terwyl die hoogs-aangeskrewe jong Ethan Hooker in Am se plek op buitesenter sal speel. George Cronjé is terug op nommer agt, terwyl Grant Williams en Siya Masuku die skakelpaar sal wees. Eduan Keyter speel op vleuel om ‘n opwindende agterste drietal te vorm met Aphiwe Dyanti en Aphelele Fassi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-892-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-55-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-73-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Professor aan die Universiteit van die Witwatersrand, Marcus Byrne, sê voor hulle paar, werk sommige miskruier-mannetjies en wyfies saam om hul broei-bolletjies na ‘n onbekende plek te skuif. Miskruiers is bekend daarvoor om die mis vir verskeie gebruike te versamel. Een hiervan word ‘n broei-bolletjie genoem, wanneer hulle ‘n eier in elke bal lê, nadat hulle dit begrawe het. Die bolletjie is dan ‘n voertuig wat die volwasse kewers gebruik om hul gene na die volgende generasie oor te dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….