Nuus 07:00
BULLETIN 1 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Opdraande stryd lê voor vir Tesourie om aan gryslysvereistes vir Januarie te voldoen
# Die DA sê die nuwe Transnet-hoof moet alle rolspelers se vertroue wen
# En, meer as 100 Palestyne is dood tydens ‘n samedromming rondom vragmotors met voedsel in Gaza
# Dis ‘n jaar sedert Suid-Afrika op die gryslys geplaas is vir onvoldoende maatreëls teen geldwassery en terreur-befondsing, en die Nasionale Tesourie erken die opdraande stryd om aan Januarie se vereistes te voldoen. Die lys belemmer belegging en marktoegang. Daar word na aanleiding van die Finansiële Aksie-taakspan se onlangse vergaderings gedeeltelik of volledig aandag gegee aan vyf van 22 vereistes. Opmerklike vordering sluit in die kriminalisering van terrorisme-befondsing en die gebruik van intelligensie vir geldwassery-ondersoeke. Die Tesourie beoog om nog vier vereistes teen Mei aan te pak.
# Die DA sê die pas aangestelde Transnet-hoof, Michelle Phillips, moet die vertroue van alle rolspelers wen om die instelling se finansiële gesondheid te herstel. Sy het meer as 20 jaar se ervaring by Transnet. ‘n DA-woordvoerder, Mimmy Gondwe, sê die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, moet Phillips die ruimte gee om haar werk sonder politieke inmenging te doen:
# ‘n Vrou van Soweto wat aangekla word van die ontvoering van en moord op haar bure se vier-jarige dogtertjie word vandag in die hof verwag. Die polisie in Gauteng het die vrou Woensdag in hegtenis geneem. Sy het Keeya Mbulawa na bewering verlede maand verdoof en in ‘n tas gesit, maar die meisie se ma het aangedring om die bagasie te deursoek en afgekom op haar beseerde kind. Keeya is later in die hospitaal dood.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê die skooltoelatingstydperk vir die volgende jaar sal op 11 Maart open vir graad een- en agt-aansoeke, en sluit op 12 April. Die departement het ook ‘n bykomende toekenning gekry van 2,5-miljard-rand vir sy Snelskoolbou-program. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, moedig ouers aan om die nodige dokumente bymekaar te begin kry, wat insluit die laaste amptelike skoolrapport, bewys van identiteit, inentingskaart en bewys van adres, om die aansoekproses te vergemaklik:
# Die Hamas-beheerde Gesondheidsministerie sê minstens 104 Palestyne is dood en meer as 200 beseer naby ʼn vragmotorkonvooi met voedsel in die noorde van Gaza. Volgens berigte het mense die vragmotors vol kos wat pas in die weste van Gaza-stad aangekom het, omsingel in die hoop om kos te kry toe Israelse magte na bewering op hulle geskiet het. Volgens Hamas is meer as 30-duisend mense in Gaza dood sedert die oorlog in Oktober ná sy aanval op Israel begin het. Die Amerikaanse president Joe Biden sê die voorval sal die huidige onderhandelinge oor ʼn skietstilstand bemoeilik.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Pieter Moolman en Shaun Norris loop gesamentlik voor na die eerste ronde van die SDC-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap. Die twee is met sewe onder baansyfer op 65 een hou voor Daniel Brown van Engeland. Die verdedigende kampioen, Matthew Baldwin van Engeland, het die ronde op twee onder op 70 voltooi. Norris sê hy is tevrede met die manier waarop hy die uitdagende toestande hanteer het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-989-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-44-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-14-sent per vat.