Nuus 17:00
BULLETIN 29 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi kry meeste skenkings, gevolg deur ActionSA en die ANC
# AKA se pa is versigtig optimisties dat geregtigheid sal geskied
# En, Olimpiese Spele: Die atletedorp is ‘n dag voor die skedule klaar
# Rise Mzansi het volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie se partybefondsingsverslag vir die derde kwartaal, skenkings van meer as 16-miljoen-rand gekry, gevolg deur ActionSA met bykans 13-miljoen-rand, en die ANC met tien-miljoen-rand. Build One South Africa het meer as agt-miljoen-rand ontvang en die Patriotic Alliance sewe-miljoen-rand. Die DA het 2,6-miljoen-rand verklaar en die Inkatha Vryheidsparty het 191-duisend-rand gekry. Die totale waarde van die skenkings wat in die kwartaal verklaar is, oorskrei 59-miljoen-rand. Standard Bank het ook vyf-miljoen-rand geskenk aan die Veelparty-demokrasiefonds.
Intussen sê ActionSA se Gautengse premierskandidaat, Funzi Ngobeni, die komende verkiesing bied ‘n geleentheid om aandag te skenk aan die provinsie se ekonomiese agteruitgang. Ngobeni het ‘n omvattende plan onthul wat fokus op ekonomiese herlewing deur strategiese projekte. Dit sluit in ‘n infrastruktuur-padkaart, die aanpak van verlate eiendomme, die verbetering van verkeerstelsels en die uitbreiding van die provinsiale padnetwerk. Ngobeni beloof etiese bestuur met deursigtigheid, en geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie nie. Hy vra inwoners om op 29 Mei stem vir vordering om Gauteng se welvaart te herwin:
# Die ontslape, veelbekroonde kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes, se pa, Tony Forbes, sê hy is versigtig optimisties geregtigheid sal geskied ná die arrestasie van sewe verdagtes vir sy seun se moord. Forbes het die eerste hofverskyning van vyf verdagtes in die Landdroshof in Durban bygewoon. Forbes het egter sy oortuiging uitgespreek dat die ware baasbreine steeds op vrye voet is:
# Die finansieel-sukkelende Padongelukkefonds kan jaarliks bykans drie-miljard-rand spaar deur inkomsteverlies-eise vir minder ernstige beserings, te staak. Die aktuaris Gregory Whittaker stel ‘n verandering voor aan die Wysigingswetsontwerp op die Padongelukkefonds, en aandag aan teenstrydighede in die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes. Whittaker stel ook ‘n sentrale regeringsliggaam voor om regverdige vergoeding te bepaal vir beserings, met die doel om die proses meer vaartbelyn te maak en die fonds se finansiële las te verlig.
# Olimpiese Spele: Die atletedorp vir die Spele in Parys is ‘n dag voor skedule voltooi. Die Franse president Emmanuel Macron is die eregas by die inwydingsplegtigheid, wat ook bygewoon word deur plaaslike atlete. Die dorp bestaan uit sowat 40 woonstelblokke waar 14-duisend atlete tydens die Somerspele sal bly, en nog nege-duisend tydens die Paralimpiese Spele. Minstens ‘n derde van die twee-duisend-800 woonstelle sal na die tyd vir openbare behuising gebruik word, en die res sal studentebehuising word, of verkoop word aan privaat eienaars.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-92-sent teen die euro en 24-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-542-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….