Nuus 09:00
BULLETIN 29 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die staat het meer as tien-miljoen-rand in die regstryd teen John Hlophe bestee
# Suid-Afrika se somer-oes staar risiko’s in die gesig weens onvoldoende reën en voortdurende hittegolwe
# En, die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte is ontsteld oor die Ghana-parlement ‘n teen-gay-wetsontwerp aanvaar het
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê die staat het meer as tien-miljoen-rand bestee in sy stryd van 16 jaar teen die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe. Die Parlement het verlede week gestem dat Hlophe verwyder word nadat die Regterlike Dienskommissie hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het. Hy het probeer om twee regters in die Konstitusionele Hof te beïnvloed om in die wapen-saak ten gunste van die destydse president, Jacob Zuma, te bevind. Lamola sê 914-duisend-400-rand is steeds uitstaande omdat probleme op fakture nog uitgeklaar word.
# Die vooraanstaande landbou-ekonoom Wandile Sihlobo maan Suid-Afrika se somer-oes het met risiko’s te doen weens onvoldoende reën en die voortslepende hittegolwe. Die plantseisoen het aanvanklik belofte getoon met volgehoue reën van Oktober tot Januarie. Sihlobo sê boere is nou bekommerd oor die gehalte van die opbrengs in die komende oestyd:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit se brandweerdiens sê hy maak goeie vordering om die brand in die Du Toitskloofpas onder beheer te kry. Die brand het gistermiddag naby die Du Kloof Lodge in Du Toitskloofpas op die N1 uitgebreek. Dit het vinnig na die pad versprei en die verkeersvloei ontwrig. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brandlyn bo die ingang na die Hugenote-tonnel is onder beheer:
# Die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, sê hy is ontsteld omdat Ghana se parlement ‘n omstrede wetsontwerp teen gay mense aanvaar het. Die wetsontwerp oor seksuele regte en gesinswaardes stel tot drie jaar tronkstraf voor vir mense wat skuldig bevind word dat hulle as LGBTQ-plus identifiseer. Dit stel ook tronkstraf van tot vyf jaar voor vir die vorming of befondsing van LGBTQ-plus-groepe. Türk sê strafregtelike sanksies vir seksuele aktiwiteite waartoe mense van dieselfde geslag instem, skend belangrike internasionale regte en standaarde oor gelykheid en nie-diskriminasie.
# Sokker: Manchester United het Nottingham Forest met een-nul verslaan en kom nou in die FA Beker-kwarteindronde op Old Trafford teen Liverpool te staan. Casemiro het die wendoel en sy vyfde van die seisoen in die 89ste minuut aangeteken. ʼn Doel van Lewis Koumas en twee van Jayden Danns het Liverpool se sege oor Southampton beklink. Chelsea is ook onder die laaste agt nadat hy Leeds United met drie-twee getroef het. Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, sê hulle het ʼn klomp geleenthede geskep:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-252-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….