Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Business Leadership SA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso sê sy is verheug oor die aanstelling van Michelle Phillips as uitvoerende hoof van Transnet. Sy sê die sakegemeenskap ondersteun haar aanstelling ten volle.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die sluiting van Polisiehoofkantoor in Pretoria nadat die werksomstandighede daar onveilig en ondraaglik geword het. Die gebou het geen water nie, die lugverkoeling werk nie en personeellede kla oor luise en kakkerlakke.
En tweedens word berig Loftus Versfeld het sy vere reggeskud vir Saterdag se titaniese stryd tussen die Bulle en die Stormers.
# The Star en Pretoria News:
Skryf mensehandel is besig om ‘n reuse-probleem in Suid-Afrika te word.
En berig die arrestasie van verdagtes in die AKA en Tibz-moordsaak is verwelkom.
# En Sowetan:
Berig ook oor die moorde op die kunstenaars AKA en Tibz. Die koerant vra die vraag: “WHO ORDERED IT?”
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die 38-jarige Armand Opperman het in die Hooggeregshof in Bloemfontein verskyn in verband met die moord op die 62-jarige voormalige veeboer van Rouxville, Lance Arthur Da Silva.
En tweedens skryf die koerant oor die dood van die bekende Friesperdteler van Ventersburg, die 70-jarige Jan du Preez.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die tragiese dood van die 12-jarige Zane Fouten wat in Lavender Hill in Kaapstad in ‘n brandende wendyhuis omgekom het.
En dan het die koerant met die naasbestaandes van die rugbyspelers Joslin de Wee en Henlo Weber gepraat wat in ‘n motorongeluk dood is.
# En Cape Times:
Skryf daar wag nog ‘n skok op motoriste met die verwagte brandstofprysstygings volgende week.
En berig die minister van Openbare Ondernemings en die Parlement is haaks oor die Suid-Afrikaanse Lugdiens-transaksie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n bekende kerkleier van Nelson Mandelabaai het in die hof verskyn nadat hy na bewering ‘n jong vrou in ‘n slaapkamer by sy huis toegesluit en verkrag het.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van Humerail sê hulle is keelvol vir die laatnag-geraas wat van ‘n restaurant in die omgewing kom.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Doen ‘n beroep op die publiek om ‘n plaaslike inwoner wat ernstige brandwonde opgedoen het te steun om plastiese sjirurgie te ontvang.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese minister van Finansies, Lipumbu Shimmi het ‘n begroting van bykans 97-miljard-rand ter tafel gelê. Dit maak voorsiening vir miljoene rand se belastingvryskelding, ‘n verhoging van vyf-persent vir staatsamptenare en die afskryf van die agterstallige belasting van staatsondernemings.