Nuus 18:00
BULLETIN 28 Februasie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tshwane kry positiewe terugvoer van 39 onafhanklike kragverskaffers
# Die nasionale polisie-hoofkwartier is ongeskik verklaar vir menslike gebruik
# En, netbal: Jenny van Dyk is aangestel as die nuwe hoofafrigter van die Proteas
# Die Stad Tshwane het positiewe terugvoer van onafhanklike kragverskaffers gekry op sy versoek vir inligting oor alternatiewe kragopwekking. Die burgemeester, Cilliers Brink, sê dié kritieke stap sal die stad in staat stel om ‘n gedetailleerde en bewys-gegronde versoek vir voorstelle te ontwikkel en uit te reik. ‘n Komitee sal nou die voorleggings beoordeel om ‘n versoek vir voorstelle op te stel, gemik op die verkryging van een-duisend megawatt energie oor drie jaar uit ‘n verskeidenheid kragstasies en ‘n mengsel van onafhanklike verskaffers. Dit stem ooreen met pogings om afhanklikheid van Eskom te verminder.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se nasionale hoofkwartier in Pretoria is opdrag gegee om onmiddellik te sluit weens ‘n skokkende toestand. Solidariteit se afdeling vir Arbeidsgesondheid- en Veiligheid en die Departement van Arbeid het die gebou na klagtes ondersoek, en bevind dit kort ook basiese geriewe en hou veiligheidrisiko’s in. Dit is agt jaar gelede gekoop en opgeknap vir bykans 900-miljoen-rand. Die vakbond se adjunk-hoofsekretaris vir Openbare Bedryf, Helgard Cronjé, sê die polisie moet op veiligheidsinspeksies wag voor die gebou heropen kan word.
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die Departement van Staatsdiens en Administrasie geloof vir sy onlangse opdrag wat daarop gemik is om die staatsdiens professioneel te maak. Die opdrag poog om diensleweringstandaarde te verhoog en ‘n kultuur van uitnemendheid en integriteit te vestig. Die vereniging beskou hierdie opdrag as ‘n belangrike stap in die rigting van die verbetering van doeltreffendheid en aanspreeklikheid in die openbare sektor. Stefan Viljoen van die vereniging doen ‘n beroep op die publiek om staatsamptenare te respekteer vir hul kritieke diens te midde van uitdagende omstandighede:
# Netbal: Jenny van Dyk is aangekondig as die nuwe hoofafrigter van die Proteas. Sy volg die Australiër Norma Plummer op, wat in beheer was van die nasionale span van 2015 tot 2019, en weer van 2022 tot verlede maand. Van Dyk het die nasionale onder-21-span afgerig, en het ook gedien as ‘n nasionale keurder. Die president van Netbal SA, Cecilia Molokwane, sê Van Dyk is aangestel op ‘n hernubare prestasie-gegronde vier-jaarkontrak. Sy het die taak om die nasionale span te kies, met die klem op die uitken van die beste spelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-249-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-82-sent per vat.
# En laastens, wetenskaplikes in Afrika het ‘n hupstoot van 138-miljoen-rand gekry van LifeArc en die Bill and Melinda Gates-stigting om die arena van wêreldwye middel-ontdekking te betree. Die Grand Challenges Africa Drug Discovery Accelerator-program mik om aansteeklike siektes te bestry soos malaria en tuberkulose, met nagenoeg een-miljoen steftes jaarliks, net in Afrika. Erick Strauss van die Universiteit Stellenbosch sê TB is steeds ‘n belangrike probleem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….