Nuus 16:00
BULLETIN 28 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Veelparty-handves onthul planne om energiesekerheid te bereik
# ‘n Sewende verdagte is aangekeer in die AKA-moordsaak
# En, rugby: Die Stormers se Bokke keer betyds terug vir die Bulle-kragmeting
# Die Veelparty-handves vir Suid-Afrika het ‘n kordaat plan aangekondig om beurtkrag uit te wis en volhoubare energie-ontwikkeling te bevorder. Elf partye het saamgewerk aan die plan wat gemik is op die afbreek van Eskom se monopolie, en die daarstelling van ‘n mededingende kragmark. DA-leier John Steenhuisen het die versnelde ontbondeling van Eskom uiteengesit, asook belegging in netwerk-infrastruktuur, en ‘n regulerende raamwerk vir mikro-netwerk-oprigting:
# Die polisie in KwaZulu-Natal het bevestig nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die kletsrymer en vervaardiger, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Dit volg nadat die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, gisteraand aangekondig het ses mense is aangekeer in verband met die moorde in Durban verlede jaar. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, hoop die deurbraak sal verdere insig bied in die vordering van die ondersoek en die regsverrigtinge rondom die hoëprofielsaak:
# Sony Interactive Entertainment het planne onthul om nagenoeg 900 werknemers in sy PlayStation-afdeling af te lê, wat omtrent agt-persent van die wêreldwye werksmag uitmaak. Die president en uitvoerende hoof van Sony Interactive Entertainment, Jim Ryan, beklemtoon die behoefte aan verandering om die onderneming steeds te laat groei en die maatskappy te ontwikkel. Ryan onderstreep die enorme verandering in die bedryf en die noodsaaklikheid om te voldoen aan die verwagtinge van ontwikkelaars en speletjie-aanhangers, sowel as die aandryf van toekomstige tegnologie wat speletjies betref.
# Rugby: Die Springbok-stut, Frans Malherbe, sal sy eerste verskyning vir die Stormers maak in die huidige Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen. Hy het herstel van ‘n heupbesering wat hy verlede jaar tydens die Wêreldbekertoernooi in Frankryk opgedoen het. Malherbe is een van die Kaapse span se nasionale spelers wat betyds terugkeer vir Saterdag se kragmeting teen die Bulle op Loftus Versfeld. Die ander Bokke is, Damian Willemse, Manie Libbok en Deon Fourie, wat die wedstryd teen die Haaie misgeloop het weens die rusprotokol. Voorspeler-afrigting Rito Hlungwani verwelkom die versterkings:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-83-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-221-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-78-sent per vat.
# En laastens, ‘n skenking van meer as 19-miljard-rand aan ‘n mediese skool in New York word beskryf as die grootste van sy soort ooit in die Verenigde State. Dit is gedoen deur ‘n oud-professor in pediatrie aan die Albert Einstein-kollege, Ruth Gottesman, vir gratis onderrig aan studente aan die instelling. Sy is die weduwee van die Wall Street-belegger, David “Sandy” Gottesman, wie se fortuin op 57-miljard-rand bereken is toe hy in 2022 oorlede is. Die 93-jarige Gottesman sê sy is geseënd om die skenking te kan doen aan so ‘n verdienstelike saak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….