Nuus 12:00
BULLETIN 28 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# VF Plus versoek Gautengse LUR vir Gesondheid om geskil met Telkom op te los
# Tax Justice SA verwelkom Inkomstediens se multimiljard-rand skadevergoedingseis teen Sasfin
# En Rugby: Borthwick hoop om Marcus Smith terug te hê vir res van Sesnasies
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng doen ‘n beroep op die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, om die geskil met Telkom dringend by te lê. Telkom het die telefoonverbindings na 83 klinieke en 32 hospitale afgesny weens agterstallige betalings. Die departement het intussen alternatiewe nommers vir die gesondheidsdienste verskaf. Amanda de Lange van die VF Plus, sê hulle moet dringend ’n oplossing vind sodat die telefoonverbindings herstel kan word:
# Tax Justice South Africa loof die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nadat ‘n dagvaarding van meer as 4,8-miljard-rand vir skadevergoeding aan Sasfin Bank uitgereik is. Die eis hou verband met geld wat sedert 2014 landuit is en waar ʼn misdaadsindikaat na bewering met gewese werknemers van die bank saamgespan het om geld te was en wette oor buitelandse valuta te omseil. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê dié wat by hierdie massa-plundering betrokke is, moet aanspreeklik gehou word:
# Die Raad op Hoër Onderwys het die buitensporige salarisse van Suid-Afrikaanse universiteitsbestuurders veroordeel, met talle visekanseliers wat in 2019 volgens berigte meer as vier-miljoen-rand per jaar verdien het. Die Universiteit van Johannesburg se visekanselier was bo-aan die lys met sewe-miljoen-rand. Kommer heers oor ‘n gebrek aan deursigtigheid in bonus-besluite. Universiteite soos Limpopo en Pretoria kon nie rekenskap gee van visekanselier-salarisse nie. Swak bestuur en rekeningkundige gebruike word die skuld gegee, wat outonomie in gevaar stel. Die raad dring aan op beter regulering.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, hou styf duimvas dat Marcus Smith betyds fiks sal wees vir die Sesnasies-kragmeting met Ierland. Die jong losskakel het ‘n kuitbesering opgedoen wat hom sover uit al drie sy land se wedstryde gehou het, met Engeland wat net-net teen Italië deurgeskraap, Wallis met twee punte geklop en teen Skotland verloor het. Die kompetisie hervat volgende naweek wanneer Italië Skotland in Rome die stryd aansê, Engeland wat Ierland op Twickenham pak, en Wallis wat in Cardiff teen Frankryk uitdraf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-611-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-19-sent per vat.
# En laastens, Freddie Mercury se herehuis in die weste van Londen is in die mark vir byna 727-miljoen-rand. Die hoofsanger van Queen het die huis in ‘n stil enklawe in Kensington in 1980 gekoop, en dit beskryf as sy plaashuis in sentraal-Londen. Dit het onder meer ‘n dubbelhoogte-eetkamer, ‘n kleedkamer met spieëlmure, ‘n kroeg, ‘n biblioteek en ‘n Japanse tuin met fonteine. Sky News berig die huis is in 1907 in die Neo-Georgiaanse styl gebou. Mercury se beste vriendin, Mary Austin, het daar gewoon sedert hy dit aan haar nagelaat het met sy dood in 1991.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….