Nuus 18:00
BULLETIN 27 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Byna 500 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika gestroop
# Sokker: Man City se trofeetoer is op pad na Kaapstad
# En, ‘n Waarskuwing word uitgereik vir uiterste hitte-toestande in die Wes- en Noord-Kaap
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, het diepe kommer uitgespreek oor die oplewing in renosterstropery. Net minder as 500 van hierdie bedreigde diere is verlede jaar gestroop, wat ‘n toename van 11-persent teenoor 2022 is. Creecy sê die stropery word aangedryf deur die aanvraag uit Asië, waar horings in tradisionele medisyne gebruik word vir hul veronderstelde terapeutiese uitwerking. Sy sê verskerpte sekerheid het stropers na streek- en privaat reservate laat beweeg:
# Die GOOD-party vra om die uitbuiting van LGBTQIA-plus-regte vir politieke gewin te verwerp. Die party veroordeel oudpresident Jacob Zuma, wat onlangs die wettiging van selfdegeslag-verhoudings as ’n skande bestempel het. GOOD meen dit ondermyn grondwetlike beskerming en vererger die stryd waarmee die LGBTQIA+-gemeenskap daagliks te kampe het. Carlos Mesquita van GOOD vra leiers om sulke uitsprake aan die kaak te stel en die regte van LGBTQIA+-burgers te handhaaf en beskerm, en so ‘n samelewing te help bevorder wat die grondwetlike minderheid respekteer en beskerm:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering reageer vinnig op die geslagsgeweld- en vrouemoord-epidemie deur robuuste instellings en vaste bewyse voorop te stel. Mashatile het die nasionale konferensie oor die hersiening van die geïntegreerde strafregstelsel toegespreek en sê die regering het wetgewende veranderings ingestel in die voortgesette stryd teen geslagsgeweld, insluitend die Wetsontwerp op Geslagsgseweld en Vrouemoord. Hy voeg by die howe het in die 2022/2023 boekjaar ‘n toename van 27,9-persent in lewenslange tronkstraf vir hierdie misdade getoon:
# Sokker: Manchester City se trofeetoer stop op die 17de van volgende maand by Croquet Lawn in die V-en-A Waterkant in Kaapstad. Eksklusiewe toegang sal verleen word aan lede van Manchester City se amptelike ondersteunersklub in Suid-Afrika. Die klubveteraan, Shaun Wright-Phillips, en afrigters sal ook afrigtingsessies vir jong ondersteuners lewer. Aanwesiges kan foto’s neem met die trofeë wat die span verlede jaar gewen het, naamlik die Premierliga, die F-A-beker, die Kampioeneliga, die Super-beker, en die Klub Wêreldbeker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-8-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-36-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-92-sent per vat.
# En, laastens: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku inwoners van die Wes- en die Noord-Kaap om voor te berei vir gevaarlike hoë temperature, met ‘n geel vlak-twee-waarskuwing vir skadelike wind ter see tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas. Waarskuwings vir hoë brandgevaar is ook uitgereik vir Kamiesberg en Hantam in die Noord-Kaap, en die Weskus- en die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap. Die weerdiens voorspel uiters warm en ongemaklike toestande, met temperature van tot 40 grade Celsius. Mense word gemaan om hitte-blootstelling te beperk, en voorsorgmaatreëls te tref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….