Nuus 17:00
BULLETIN 27 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ongeredigeerde kaderontplooiingsrekords van die ANC
# President Cyril Ramaphosa benoem regters om die howe te lei
# En, Namibië doen mondelinge voorleggings in die Internasionale Geregshof oor die Israelse besetting in Gaza
# Die DA eis ongeredigeerde kaderontplooiings-rekords van die ANC. Die party beskuldig die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, daarvan dat hy sommige dokumente onregmatig geredigeer en ander heeltemal weggelaat het. Die rekords strek van Desember 2012 tot Desember 2017, toe president Cyril Ramaphosa voorsitter van die ANC se ontplooiingskomitee was. DA-leier John Steenhuisen het in Ekurhuleni aan die media gesê dis in die openbare belang om bloot te lê hoe die ANC se inmenging by aanstellings in die openbare sektor die staat ondermyn, korrupsie bevorder en dienslewering belemmer:
Intussen het President Cyril Ramaphosa regter Mandisa Maya as hoofregter benoem en raadpleging begin met politieke partye en die Regterlike Dienskommissie. Maya is tans adjunkhoofregter, en is benoem teen die agtergrond van die hoofregterpos wat op 31 Augustus vakant raak wanneer regter Raymond Zondo se termyn eindig. Regter Dumisani Hamilton Zondi is intussen as adjunkpresident van die Appèlhof benoem. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die termyn van die dienende adjunkpresident, Xola Petse, eindig op 10 Julie:
# Die Namibiese minister van Justisie, Yvonne Dausab, en ‘n internasionale prokureur, Phoebe Okowa, het mondelinge voorleggings gedoen voor die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland, oor Israel se besetting van die Palestynse gebiede. Die ministerie se woordvoerder, Edmund Khoaseb, sê hul fokus was op die regsgevolge van Israel se beleid en praktyke in die gebiede, insluitend in Oos-Jerusalem. Hy beklemtoon Namibië se morele plig om aandag te skenk aan die besetting, met verwysing na wyle president Hage Geingob se standpunt teen die geweld in Gaza:
# Krieket: Die Nieu-Seelandse bouler Neil Wagner wat in Pretoria gebore is, het sy uittrede aangekondig uit internasionale krieket. Die 37-jarige was die twaalfde man in twee toetse vir die Proteas, voordat hy in 2008 na Nieu-Seeland verhuis het. Hy het sedert 2012, 64 toetse vir die Swart Pette gespeel en 260 paaltjies geneem. Wagner het besluit om uit internasionale krieket te tree nadat hy ingelig is dat hy nie oorweeg sal word vir die reeks van twee toetse teen Australië, wat Donderdag in Wellington begin nie. Wagner het die Nieu-Seelandse ondersteuners bedank dat hulle hom soos ‘n Kiwi laat voel het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-859-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Suid-Afrikaners vier vandag Nasionale Melktertdag, ‘n geliefde kulinêre tradisie wat ‘n spesiale plek in die land se nagereg-kultuur inneem. Die melktert, wat in die 17de eeu onder die Nederlanders in die Kaapse kolonie ontstaan het, is steeds ‘n gunsteling in veral Afrikanerhuishoudings. Daar word gesê hierdie ikoniese gereg, bekend vir sy ryk kulturele betekenis, weerspieël die land se erfenis en uiteenlopendheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….