Nuus 16:00
BULLETIN 27 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag vra ‘n herverhoor van ‘n voormalige minister wat vroeër vrygespreek is deur die geskorste Wes-Kaapse regterpresident
# Die DA berei ‘n klag van minagting van die hof voor teen ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula
# En, Sokker: Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê, hulle sal Tanzanië nie vanaand in Mbombela onderskat nie
# Die Nasionale Vervolgingsgesag beplan om by die Appèlhof aansoek te doen om ‘n herverhoor van die korrupsiebeskuldigde oud-minister van Staatsveiligheid, Bongani Bongo, wat in 2021 deur die geskorste Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe vrygespreek, is. Bongo is aangekla dat hy Ntuthuzelo Vanara wou omkoop, wat in beheer was van die Parlement se ondersoek na Eskom. Hlophe is vroeër vandeesmaand deur die parlement aangekla van growwe wangedrag, met Bongo wat ten gunste van die mosie gestem het. Die NVG voer aan, Hlophe het fouteer toe hy Bongo vrygespreek het.
# Die DA sê hy sal deur middel van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting die notules en rekords bekom van die ANC se provinsiale en streekkader-ontplooiingskomitees, en dit blootlê. Die DA het vandag ‘n advertensiebord in Gauteng onthul wat vra vir ‘n verbod op kaderontplooiing. Die party probeer ná sy Konstitusionele Hof-oorwinning bewyse ontbloot van soortgelyke komitees op laer ANC-vlakke. Leon Schreiber van die DA dreig met regstappe as die ANC nie aan die 30-dae-spertyd voldoen nie:
# Eskom het aangekondig fase twee beurtkrag sal tot verdere kennisgewing voortduur weens volgehoue voldoende noodreserwes. Fase drie-beurtkrag sal nie meer om vier-uur vanmiddag ingestel word nie, in teenstelling met vorige inligting. Eskom verseker die publiek indien daar beduidende veranderings aan die skedule is, sal dit stiptelik deurgegee word.
# Sokker: Banyana Banyana pak Tanzanië vanaand in Mpumalanga in die tuiswedstryd van hul Olimpiese kwalifiseerder. Suid-Afrika het Tanzanië in verlede week se weg-wedstryd in Dar-es-Salaam 3-0 geklop om hul soeke na ‘n plek in die Spele in Parys in Julie te versterk. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê die oortuigende oorwinning het baie druk op haar spelers verlig, maar hou vol hulle sal nie hul teenstanders onderskat nie. Afskoptyd op die Mbombela-stadion is 7.30.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-960-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-45-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Suid-Afrikaners vier vandag Nasionale Melktertdag, ‘n geliefde kulinêre tradisie wat ‘n spesiale plek in die land se nagereg-kultuur inneem. Die melktert, wat in die 17de eeu onder die Nederlanders in die Kaapse kolonie ontstaan het, is steeds ‘n gunsteling in veral Afrikanerhuishoudings. Daar word gesê hierdie ikoniese gereg, bekend vir sy ryk kulturele betekenis, weerspieël die land se erfenis en uiteenlopendheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….