Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 27 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Amerikaanse vermaaklikheidsreus, Paramount, het ‘n ooreenkoms onderteken waarvolgens sy Paramount Plus-stromingsplatform deur MultiChoice in Afrika bekend gestel word. Afrika se grootste betaal-TV-operateur het die afgelope twee jaar talle ooreenkomste onderteken wat gestroomde inhoud na sy betalende gehoor bring. MultiChoice-ooreenkomste met Netflix, Amazon Prime Video, HBO, Disney, NBC Universal, Canal Plus, Sky en nou Paramount, sal waarskynlik alle gestroomde inhoud onder een dak vestig sodat verbruikers nie talle subskripsies hoef te hê nie. MultiChoice het dekades lank inhoud van Paramount deur DStv en onlangs ook deur Showmax uitgesaai.
# Standard Bank het die veldtog Achieva Exchange bekendgestel om jong Suid-Afrikaners met die hulpbronne toe te rus wat hulle benodig om hul reis in die arbeidsmark aan te pak. Mense kan toetreders tot die mark help met skenkings van praktiese hulp, soos formele werksdrag, slimtoestelle, rekenaarsakke en enigiets wat hulle mag benodig wanneer hulle begin werk. Standard Bank sal Saterdag die Achieva Exchange-dag by die Maponya-winkelsentrum in Soweto bywoon om geregistreerde jongmense met hulpbronne toe te rus sodat hulle hul loopbane op die regte voet kan afskop.
# Die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort Veterinêre Akademiese Hospitaal het die grootste CT-skandeerder wat nóg in veeartseny-praktyk in Suid-Afrika gebruik is, bekend gestel. Die moderne skandeerder is aangekoop met behulp van die Roy McAlpine Charitable Foundation se skenking van 13-miljoen-rand. Dit sal die opleiding van veeartseny-spesialiste aansienlik verbeter, kliniese navorsingsvermoë versterk en vernuwing by die universiteit bevorder. Die hospitaal wat bekend is vir sy moderne geriewe, is die tweede oudste in Afrika.
# Die Twee Oseane Akwarium-stigting in Kaapstad het ‘n oproep gedoen dat strandgangers waaksaam moet wees vir gestrande waterskilpaaie wat tydens die strandingseisoen aan die kus uitspoel. Dit volg op die onlangse redding van ‘n gestrande waterskilpad wat deur eendmossels gekamoefleer is. Volgens die stigting strek die strandingseisoen aan die Wes-Kaapse kuslyn gewoonlik van Maart tot Julie. Die broeilinge kom van die Noordelike Strande in KwaZulu-Natal waar hulle uitbroei en dan seelangs na die Agulhas-seestroom beweeg.
# En, laastens: Spesiale Olimpiese Spele Suid-Afrika en Little Eden Society werk saam om Vrydag in Roodepoort, Johannesburg, mense met intellektuele of ontwikkelingsgebreke van reg oor die land te vereer. Dit val saam met die Bewusmakingsmaand vir Intellektuele en Ontwikkelingsgestremdhede in Maart. Hulle wil bewustheid skep oor die vermoëns en uitdagings waarmee mense met gestremdhede te kampe het. Little Eden sal die rolstoel-uitdaging vir uitvoerende hoofde aanbied waar sakeleiers eerstehands mense met gestremdhede se werklikhede sal beleef deur een werksdag in ʼn rolstoel deur te bring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….