Eko-minuut 13:30
BULLETIN 27 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Stad Kaapstad sê sake-ondernemings en huishoudings het sedert die 2022/23-boekjaar meer as 25,8-miljoen-rand uit sy Kontant vir Krag-program ontvang. Dit volg nadat die stad kleinskaalse kragprodusente se oorskot-sonkrag vir kontant of krediete op hul munisipale rekening begin aankoop het. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê een-duisend-461 kragverkopers het sedert die begin van die maand af by die kragskema baat gevind as deel van die stad se plan om uiteindelik geen beurtkrag meer te hê nie:
# Die Twee Oseane Akwarium-stigting in Kaapstad het ‘n oproep gedoen dat strandgangers waaksaam moet wees vir gestrande waterskilpaaie wat tydens die strandingseisoen aan die kus uitspoel. Dit volg op die onlangse redding van ‘n gestrande waterskilpad wat deur eendmossels gekamoefleer is. Volgens die stigting strek die strandingseisoen aan die Wes-Kaapse kuslyn gewoonlik van Maart tot Julie. Die broeilinge kom van die Noordelike Strande in KwaZulu-Natal waar hulle uitbroei en dan seelangs na die Agulhas-seestroom beweeg.
# En, laastens: Dis vandag Internasionale Ysbeerdag. Die dag val saam met die tydperk wanneer ysbeer-ma’s en hulle kleintjies in die Arktiese gebied hulle winterslaap knus in hulle slaapplekke deurbring. Die dag wil die aandag vestig op klimaatsverandering se bedreiging vir ysbere en hulle habitat, weens stygende seetemperature en ys wat in die Noordpoolgebied smelt. Polar Bears International sê vanjaar se fokus is op fondsinsameling om ysbeerma’s en hul kleintjies te beskerm en die beste kans op oorlewing te gee, terwyl hy ook sy ander bewaringspogings in die Arktiese streek ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….