Nuus 11:00
BULLETIN 27 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie waarsku grondboontjiebotter-vervaardigers om hul produkte te toets
# Joe Biden sê ‘n tydelike Israel-Hamas-skietstilstand is dalk teen volgende week moontlik
# En rugby, die Stormers is die gunstelinge in die naweek se stryd teen die Bulle op Loftus
# Die Nasionale Verbruikerskommissie vra alle vervaardigers van grondboontjiebotter om hulle produkte te begin toets en vas te stel of die aflatoksien-vlakke daarin aanvaarbaar is. Pick n Pay het vroeër die maand hulle No-Name- en Eden All Natural-grondboontjiebotter van die rakke gehaal nadat verhoogde vlakke aflatoksien daarin gevind is wat skadelik kan wees vir menslike gebruik. Woolworths het onlangs ook sy grondboontjie-roomys onttrek. Volgens die Verbuikerskommissie se waarnemende nasionale kommissaris, Thezi Mabuza, is hulle bekommerd oor die hoeveelheid produkte wat onttrek word:
# In plaas daarvan dat hy homself regruk soos hy dikwels belowe in party-dokumente en resolusies wat by konferensies aanvaar word, is die ANC besig om homself te benadeel. Dis die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela, wat glo die regerende party het toegelaat dat korrupsie en onbevoegdheid die regering se kenmerke geword het. Hy sê in ‘n artikel vir News24 die ANC-verkiesingsmanifes is op ontevrede kiesers gemik omdat die party sê hy gaan sy foute regstel as hy nog ʼn kans gegun word om te regeer. Mkhabela sê die ANC is sy eie grootste teenstander.
# Die Stad Kaapstad sê sake-ondernemings en huishoudings het sedert die 2022/23-boekjaar meer as 25,8-miljoen-rand uit sy Kontant vir Krag-program ontvang. Dit volg nadat die stad kleinskaalse kragprodusente se oorskot-sonkrag vir kontant of krediete op hul munisipale rekening begin aankoop het. Die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê een-duisend-461 kragverkopers het sedert die begin van die maand af by die kragskema baat gevind as deel van die stad se plan om uiteindelik geen beurtkrag meer te hê nie:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê ʼn nuwe ooreenkoms vir ʼn tydelike skietstilstand tussen Israel en Hamas kan hopelik teen Maandag bereik word. Amerika, Egipte en Katar werk aan ʼn gyselaar-ooreenkoms tussen Israel en Hamas wat daartoe kan lei dat gevegte minstens ses weke lank gestaak word. Die ooreenkoms kan volgens berigte beteken dat Hamas meer gyselaars vrylaat, dat Israel talle Palestynse gevangenes vrylaat en honderde vragmotors met hulp veilig na Gaza gaan.
# Rugby: Die Stormers word beskou as die gunstelinge wanneer hulle Saterdag Pretoria toe reis om met die Bulle kragte te meet in ‘n Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd op Loftus Versfeld. Dit is omdat die Kaapse span al sewe hulle VRK-wedstryde tot dusver teen hulle noordelike teenstanders gewen het. Die gashere het met ‘n veldtog begin om dié keer die stadion vol te pak, nadat hulle tot dusver die seisoen voor net ‘n handjievol ondersteuners moes speel. Die Bulle is tans derde op die punteleer en die Stormers sesde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-92-sent teen die euro en 24-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-236-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….