Nuus 07:00
BULLETIN 27 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership South Africa vra die dringende aanstelling van nuwe Transnet-leierskap
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sal motoriste verdedig wat gedagvaar word oor uitstaande e-tolskuld
# En tennis, Andy Murray bespiegel sy loopbaan is dalk binnekort oor
# Business Leadership South Africa sê nuwe Transnet-leierskap is dringend nodig. Die spoorvragmaatskappy is byna ses maande sonder ‘n permanente uitvoerende hoof en ander leiers. Busi Mavuso van BLSA beklemtoon die belangrikheid dat die raad en die uitvoerende span belyn moet wees, en noem kommer oor politieke inmenging in die aanstellingsproses van die uitvoerende hoof. Sy onderstreep Transnet se sleutelrol in die hantering van die logistieke krisis en vra steun vir diep strukturele hervorming om doeltreffendheid en mededingendheid in die sektor te verbeter.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy sal voortgaan met sy plan om motoriste te verdedig wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap gedagvaar word oor uitstaande e-tolskuld. Die volg na die Nasionale Tesourie se adjunk-direkteur-generaal van staatsfinansies, Mampho Modise, se opmerkings dat Gauteng ingestem het skuld moet en sal ingevorder word. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê Modise se opmerkings is verwarrend aangesien Sanral in 2019 opgehou het om wanbetalers te dagvaar en die meeste van hierdie skuld nou verjaar het:
# City Power in Johannesburg waarsku werknemers daarteen om met infrastruktuur te peuter en omkoopgeld te vra. Kliënte word ook versoek om nie omkoopgeld aan te bied nie, aangesien dit moontlike regsgevolge kan hê. Dit volg nadat ‘n subkontrakteur beken het hy het met straatligte in Eldoradopark gepeuter, terwyl ‘n kontrakteur ook in Rabie Ridge aangekeer is omdat hy ‘n kliënt onwettig verbind het vir 800-rand se omkoopgeld. City Power se woordvoerder, Isaac Mangena, sê die diens is daartoe verbind om diefstal, opsetlike beskadiging en onwettige verbindings te bekamp.
# Oudpresident Donald Trump van Amerika gaan appelleer teen die siviele bedrogsaak van 8,77-miljard-rand in New York. Hy en top- uitvoerende beamptes in sy maatskappy, insluitend sy twee ouer seuns, is skuldig bevind dat hulle jare lank banke en versekeraars bedrieg het deur hulle bates op finansiële state groter voor te stel om lenings te verseker en ooreenkomste te sluit. Trump se prokureurs sê hulle eis dat ‘n appèlhof vasstel of regter Arthur Engoron regsfoute begaan of sy diskresie misbruik het toe hy vroeër die maand die uitspraak gelewer het.
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, het bespiegel dat sy loopbaan as tennisspeler nog net ʼn paar maande kan duur. Die Brit wat aanvanklik ʼn stel agter was, het teruggeveg en die Kanadees Denis Shapovalov met 4-6, 7-6 en 6-3 verslaan in die eerste ronde van die Dubai-kampioenskap. Dis sy 500ste toervlak-sege op ʼn harde baan wat hom slegs die vyfde mansspeler in die geskiedenis maak wat dié mylpaal bereik. Murray sê hy het waarskynlik nie meer baie tyd oor om te speel nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-137-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte, die Amerikaanse vermaaklikheidsreus, Paramount, het ʼn ooreenkoms onderteken waarvolgens sy Paramount Plus-stromingsplatform deur MultiChoice in Afrika bekend gestel word. Afrika se grootste betaal-TV-operateur het die afgelope twee jaar talle ooreenkomste onderteken wat gestroomde inhoud na sy betalende gehoor bring. MultiChoice-ooreenkomste met Netflix, Amazon Prime Video, HBO, Disney, NBC Universal, Canal Plus, Sky en nou Paramount, sal waarskynlik alle gestroomde inhoud onder een dak vestig sodat verbruikers nie talle subskripsies hoef te hê nie. MultiChoice het dekades lank inhoud van Paramount deur DStv en onlangs ook deur Showmax uitgesaai.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….