Nuus 15:00
BULLETIN 26 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK gee vandag die voorlopige kieserslys vir inspeksie uit
# Minister Ramokgopa is vol vertroue eenheidsfoute kan beperk word vir betroubare kragtoevoer
# En, die raaisel oor waar ‘n sesjarige Weskusmeisie haar bevind, duur voort
# Ter voorbereiding van die algemene verkiesing het die Onafhanklike Verkiesingskommisie die voorlopige kieserslys vir inspeksie uitgegee. Dit is ‘n belangrike stap in die verkiesingsproses en maak voorsiening vir besware tot 4 Maart. Die OVK het ook nominasies gevra van politieke partye en onafhanklike kandidate, met ‘n spertyd van 8 Maart. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo het die media ingelig oor hulle gereedheid vir die verkiesing en gesê die finale lyste sal op 10 April uitgegee word:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê beurtkrag het ‘n noemenswaardige afname van sowat 600-uur beleef. Die vergelyking is gedoen tussen Desember 2022 en Februarie verlede jaar, tot dieselfde tydperk tussen 2023 en 2024, wat ‘n aansienlike vermindering van een-duisend-801 uur tot een-duisend-217 uur aandui. Ramokgopa het op ‘n nuuskonferensie gesê hierdie prestasie is ‘n positiewe aanduiding van verbeterde energiebestendigheid, wat ‘n afname in die intensiteit en herhaling van beurtkrag beklemtoon. Hy bevestig die regering se voortdurende verbintenis tot die handhawing van energiebetroubaarheid:
# Die Departement van die Staatsdiens en Administrasie het die eerste volume van die Riglyne oor Menslike Hulpbronnebestuur en die Professionalisering van die Staatsdiens vrygestel. Die direkteur-generaal, Yoliswa Makhasi, loof dit as ‘n belangrike mylpaal in die versterking van die doeltreffendheid, integriteit en aanspreeklikheid van die Staatsdiens. Makhasi sê die riglyne reël die instelling van die Professionaliseringsraamwek, gemik op die opskerping van produktiwiteit en doeltreffendheid. Die riglyne sal volgens beplanning op 1 April in werking tree.
# Die raaisel duur voort oor waar ‘n jong Weskusmeisie wat ‘n week gelede verdwyn het, haar bevind. Die ses-jarige Joslin Smith se ma, Kelly, het haar agtergelaat by haar vriend by hulle huis in Middelpos, Saldanhabaai, omdat die dogtertjie sleg gevoel het. Sy was nêrens te vinde toe Smith teruggekeer het nie. Belonings vir inligting het tot 120-duisend-rand toegeneem, met die gemeenskap en lede van die plaaslike Vlootbasis wat hulle by die soektog aangesluit het. Die polisie het intussen mense gevra om nie vals nuus oor die situasie te versprei nie.
# Rugby: Die Springbok-sewesafrigter, Sandile Ngcobo, sê bestendigheid het tot dusver vanjaar ontbreek in hul vertonings in die Wêreld-sewesreeks. Die Blitsbokke het Australië met 24-7 verslaan om uiteindelik in ‘n teleurstellende negende plek te eindig, in die Kanadese toernooi in Vancouver. Suid-Afrika het nou ná vier toernooie na die sesde algehele posisie teruggesak. Ngcobo sê die positiewe afronding in die laaste twee wedstryde, waarin die Blitsbokke Kanada en Australië geklop het, het gewys wat gedoen kan word:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-96-sent teen die euro en 24-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-en-77-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….