Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 26 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die atoom-biorolprent, Oppenheimer, het die topprys verower op die Amerikaanse Vervaardigersgilde-toekennings. Die prent het die Darryl F Zanuck-toekenning vir Uitstaande Vervaardiger van Teaterrolprente gewen. The Bear het die Danny Thomas-toekenning vir Episode-komediereekse gewen; RuPaul’s Drag Race is bekroon met die toekenning vir die Bes-vervaardigde Kompetisie-en-speletjiereeks, en Last Week Tonight with John Oliver het die eerste plek in die Verskeidenheidskategorie behaal. Die toekenning vir Vervaardiger van Dokumentêre Rolprente het aan American Symphony gegaan, terwyl Sesame Street die toekenning gekry het vir Uitstaande Kinderprogram.
# Mej. Suid-Afrika, Natasha Joubert, het haar verlowing aan haar kêrel van byna nege jaar, Enrico Vermaak aangekondig. Hy het die vraag dié naweek gevra op ‘n romantiese sonsondergang-seiljagvaart vanaf die V&A Waterfront in Kaapstad. Joubert sê die oomblik was perfek en baie spesiaal, want albei se familie en vriende het die geleentheid meegemaak. Sy sê hulle sal die knoop deurhaak nadat sy haar kroon aan haar opvolger oorhandig het en haar pligte afgehandel is. Die uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, Stephanie Weil, sê hulle is verheug vir die paartjie.
# Die Motsepe-stigting het 30-miljoen-rand aan 26 universiteite se verteenwoordigende studenterade geskenk. Een van die instellings wat hierby baat, is die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se SR wat 1,3-miljoen-rand ontvang het. Dit moet gebruik word vir studenteregistrasie, fooie en historiese skuld. Die stigting se medestigter en uitvoerende hoof, Precious Moloi-Motsepe, sê die privaat sektor en organisasies sonder winsbejag moet struikelblokke te verwyder, hoop gee en geleenthede skep.
# Die vroue van Kaapstad se bekende hiphop-groep, Sublime, het hulle oë op die Hiphop-wêreldkampioenskap wat later vanjaar plaasvind. Die vroue-dansgroep onder leiding van afrigter Corinne de Beer maak gereed vir die provinsiale kampioenskap, dan die nasionale en uiteindelik die wêreldkampioenskap. Sublime het by die 2022 Hip Hop Unite Wêreldkampioenskap goud gewen en was verlede jaar eerste by die Hiphop Internasionale Streekkompetisie. Die groep sê hulle uiteindelike doel is om by die Wêreldkampioenskap goud te wen vir Suid-Afrika.
# En ten slotte, vroue in Japan het geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer in een-duisend-250 jaar aan die Hadaka Matsuri, of Naakfees, by die Konomiya-heiligdom in sentraal-Japan deel te neem. Sewe groepe vroue het by die ritueel aangesluit waardeur bose geeste afgeweer en vir geluk gebid word. Vroue het egter weens die strawwe fisieke aard daarvan, nie aan die fees se hoofgeleentheid deelgeneem nie, waar mans tradisioneel veg om bose geeste te verdryf. Nog ‘n naakfees sal dié week by die Kokuseki-tempel in die noorde van Japan plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….