Nuus 11:00
BULLETIN 26 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die begroting sal vinniger en inklusiewe ekonomiese groei in die land bespoedig
# Dis D-dag vir die ANC om die uitstaande kaderontplooiingsdokumente te oorhandig
# En rugby, die Argentynse mans en Nieu-Seelandse vroue word as sewes-kampioene in Vancouver gekroon
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het die afgelope vyf jaar verskeie stappe gedoen om die ekonomie weer op koers te kry, insluitend die instel van verreikende hervormings in die energie- en logistieke sektor. In sy weeklikse nuusbrief sê hy die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n nasionale begroting voorgelê wat die land verder sal neem op die pad na ‘n herlewing in die ekonomie. Ramaphosa sê die begroting wys die regering bly verbind tot ‘n volhoubare fiskale roete, en beskerm kritieke dienste en maatskaplike besteding, én sluit ook nuwe maatreëls in om groei te bevorder en werk te skep.
# Die DA sê die ANC het tot die einde van vandag om die uitstaande dokumente te oorhandig wat verband hou met die vergaderings van sy kaderontplooiingskomitee vanaf Januarie 2013. Die party sê, anders sal hy ‘n aansoek bring van minagting van die hof. Verlede week het die regerende party sy kaderontplooiingsdokumente aan die DA oorhandig kragtens ‘n bevel van die Konstitusionele Hof. Die DA sê egter, die ANC het versuim om president Cyril Ramaphosa se e-posse en WhatsApps in te sluit, al was hy die komitee se voorsitter, Die party het ook nie ‘n lys verskaf van alle besluite wat deur die komitee geneem is nie.
# Die EFF in Gauteng sê die afgelope maande se toename in blouligkapings in die provinsie is kommerwekkend. Hy sê daar is na bewering ‘n sogenaamde blouligbende op die N3-hoofweg bedrywig. Hulle het polisie-uniforms aan en keer voertuie voor waarna hulle die insittendes beroof of selfs ontvoer. ʼn EFF-woordvoerder Naledi Chirwa-Mpungose sê dis ontstellend dat misdadigers die eens gerespekteerde polisie-uniform aantrek en blou ligte gebruik om wrede misdade te pleeg:
# Australië het finansiële sanksies en ʼn reisverbod ingestel teen sewe Russiese tronkbeamptes. Die land beskuldig die beamptes dat hulle die Kremlin-kritikus, Alexei Navalny, by die Arktiese tronkkolonie mishandel het waar hy vroeër die maand dood is. Die Russiese opposisieleier het 19-jaar-tronkstraf uitgedien vir aanklagte wat deur vele as polities gemotiveerd beskou is. Die adjunkpremier, Richard Marles, sê Australië hou die Russiese president Vladimir Putin en sy regering verantwoordelik vir Navalny se behandeling en dood in aanhouding. Die Kremlin ontken enige betrokkenheid by sy dood.
# Rugby: Argentinië is steeds die beste manspan in die wêreld nadat hulle die derde agtereenvolgende keer die kroon in die Kanada-sewes in Vancouver opgeraap het. Die Pumas het Nieu-Seeland in die eindstryd uiteindelik met 36-12 verslaan om hulle greep op die Wêreld-sewesreeks te versterk. In die vroue-eindstryd het Portia Woodman-Wickliffe se driekuns Nieu-Seeland gehelp om Frankryk met 35-19 te verslaan en die tweede agtereenvolgende keer die titel te wen. Woodman-Wickliffe sê die nuwe spelers in die span het hulle kant gebring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-522-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 18-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….