Nuus 08:00
BULLETIN 26 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Menseregtekommissie se haatspraaksaak teen Julius Malema begin in die Gelykheidshof
# AZAPO sê Suid-Afrikaners begin politici se skynheiligheid raaksien
# En, minstens 15 mense is dood in ‘n aanval op ‘n Katolieke kerk in Burkina Faso
# Die Gelykheidshof in Kaapstad sal vandag die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se saak teen die EFF-leier Julius Malema aanhoor. Dit handel met sy terugtrekking van ‘n verskoning vir haatspraakuitlatings. Die kommissie het bevind dele van Malema se toespraak in die Wes-Kaap in Oktober 2022 kom neer op haatspraak en aanhitsing tot geweld, nadat AfriForum ‘n klag ingedien het. Malema hou vol dat sy toespraak uit verband geruk is en dat die kommissie se prosesse onvoldoende was, aangesien hy nooit sy kant van die saak kon stel nie.
# Die Azanian People’s Organisation sê Suid-Afrikaners begin om die skynheiligheid van politici en hul partye raak te sien wanneer hulle probeer stemme koop met leë beloftes, kospakkies en gratis T-hemde. Die party se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê daar is videogreep van ‘n jong man wat die naweek die ANC se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes in Durban bygewoon het. Hy sê hy het die gratis uitstappie, middagete en ʼn T-hemp geniet, maar sal nie vir die regerende party stem nie:
# Johannesburg se burgemeester Kabelo Gwamanda het lede op die tugraad aangestel en sê dis ʼn noodsaaklike stap om finansiële integriteit en aanspreeklikheid te behou. Die raad dien as onafhanklike liggaam om bewerings van finansiële wangedrag te ondersoek. Sy hooftaak is om gepaste optrede aan te beveel, insluitend strafregtelike en tugprosesse, teen individue wat van finansiële wangedrag beskuldig word. Gwamanda sê hy is vol vertroue die tugraad sal ʼn belangrike rol speel om ondersoeke uit te voer, sanksies aan te beveel en aanspreeklikheid vir finansiële oortredings in die stad te verseker.
# Minstens 15 mense is dood en twee ander beseer in ʼn vermeende terroriste-aanval op ʼn Katolieke kerk in die noordooste van Burkina Faso. Volgens berigte het gewapende mans Sondag tydens die diens die kerk in die dorpie Essakane binnegegaan en lukraak op mense losgebrand. Die kerk sê die aanvallers was vermoedelik Islamitiese militante. Hierdie dodelike skietvoorval is die jongste in ʼn reeks gruweldade wat aan djihadiste-groepe in die streek toegeskryf word. Sommige teiken Christen-kerke terwyl ander geestelike leiers ontvoer.
# Sokker: Liverpool het Chelsea met een-nul verslaan om hulle tiende Carabao-beker by Wembley te wen en daarmee hulle posisie as suksesvolste span in die geskiedenis van die kompetisie vergroot. Virgil van Dijk se kopskoot in die 118de minuut het die oorwinning vir Jurgen Klopp se span in sy laaste seisoen verseker. Maar Chelsea se bestuurder, Mauricio Pochettino, sal nou nog langer moet wag vir sy eerste trofee in Engeland. Klopp sê sy span was uitsonderlik, veral die jong akademiespelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-497-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….