Nuus 07:00
BULLETIN 26 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die MK-party se afhanklikheid van Jacob Zuma maak sy volhoubaarheid moeilik
# Adjunkpresident Paul Mashatile beklemtoon inisiatiewe wat burgers na die onderwysberoep moet lok
# En, Volodymyr Zelensky sê 31-duisend Oekraïnse soldate is reeds in die oorlog met Rusland dood
# Die uMkhonto we Sizwe-party maak te veel staat op oudpresident Jacob Zuma en sy gewildheid en dit maak die party se lewensvatbaarheid en volhoubaarheid moeilik en selfs onmoontlik. Dit is die mening van ‘n dosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Zakhele Ndlovu. ʼn Meningspeiling deur die Stigting vir Maatskaplike Navorsing voorspel indien 66-persent kiesers in die komende verkiesing gaan stem, kan die MK-party 24-persent stemme in KZN kry en die ANC 25-persent. Ndlovu sê ten spyte van sy tekortkominge is die MK-party nie net vir die ANC ʼn bedreiging nie, maar ook vir ander partye.
# Adjunkpresident Paul Mashatile spreek vandag in Sandton, Johannesburg, die 14de beleidsdialoog-forum van die internasionale taakspan oor onderwysers vir onderrig toe. Die taakspan is ʼn globale platform vir rolspelers in onderwys wat voorspraak, kennis-uitruiling en portuurgroep-leer wil bevorder en Volhoubare Ontwikkeling Doelwit Vier se vordering in gehalte-onderrig monitor. Die presidensie sê Mashatile sal sommige van die regering se inisiatiewe uitlig wat daarop gemik is om meer burgers na die onderwysberoep te lok om seker te maak hoë gehalte onderwys word gehandhaaf.
# Die EFF in Gauteng verwelkom die hernieude toewyding van die Stad Johannesburg se ombud om kwessies oor dienslewering en sake van wanadministrasie in die stad te ondersoek. Die ombudkantoor spreek klagtes aan oor dienslewering en bestuur. Naledi Chirwa van die EFF eis deursigtigheid en volgehoue kommunikasie met die mense van Johannesburg. Sy lê klem op hulle toewyding aan die oplos van dienslewerings- en wanadministrasie-kwessies:
# President Volodymyr Zelensky sê minstens 31-duisend Oekraïnse soldate is dood sedert Rusland se volskaalse inval twee jaar gelede. Hy beweer ook 180-duisend Russe is in die konflik dood. Dis die eerste keer sedert die einde van 2022 dat Oekraïne ʼn syfer aan sy militêre verliese koppel. Zelensky sê hulle het ʼn nuwe weerstandsplan teen Russiese magte nadat die eerste een verlede jaar weens ʼn gebrek aan wapens misluk het. Hy sê hulle enigste opsie is om hierdie oorlog te wen.
# Rugby: Losskakel Paolo Garbisi se mislukte strafskop in die laaste minuut in Lille het Italië se hoop op ʼn geskiedkundige oorwinning teen Frankryk in die Sesnasies verpletter met ʼn gelykoptelling van 13-elk. Ange Capuozzo se drie laat in die wedstryd en Garbisi se verdoelskop het Italië se telling gelyk gemaak met dié van die gashere se 14-man-span. Garbisi het in die laaste minuut geleentheid gehad om Italië sy eerste Sesnasies-oorwinning teen Frankryk te gee, maar sy poging het die regop-paal getref. Italië en Wallis bly onderaan die Sesnasies-punteleer met Frankryk in die vierde plek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-507-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-28-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging herdenk sy 50ste bestaansjaar, wat uitgeloop het op vyf dekades van uitsonderlike bydraes tot die kulinêre bedryf. James Khoza van die vereniging sê hulle het diversiteit bevorder en Suid-Afrika se kookkuns internasionaal bekend gestel. Khoza sê dit het kulinêre talent en tradisies tot internasionale standaarde verbeter en oor die jare die bedryf se ontwikkeling en erkenning gevorm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….