Nuus 13:00
BULLETIN 25 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC betreur die dood van sy lede in ‘n busongeluk
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa herbevestig sy toewyding tot die ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekerings-wetsontwerp
# En, die president van Duitsland, Frank-Walter Steinmeier, sê dis hoog tyd dat Duitsland Namibië om verskoning vra vir die volksmoord op die Nama’s en Ovaherero’s tussen 1904 en 1908.
# Die ANC betreur die dood van nege lede van die party in Mpumalanga wat vanoggend in ‘n busongeluk gesterf het. Die slagoffers het teruggekeer van die Moses Mabida-stadion in Durban nadat hulle die bekendstelling bygewoon het van die ANC se verkiesingsmanifes. Die dodelike ongeluk het in Dumbe, KwaZulu-Natal, plaasgevind. Talle ander insittendes is baie ernstig beseer. Die negende slagoffer het in die hospitaal beswyk. Die ANC sê in ‘n verklaing die adjunkvoorsitter van KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane, en lede van die party se provinsiale leierskap in Mpumalanga en KwaZulu-Natal is op pad na die ongelukstoneel.
Die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, het by die manifesbekendstelling sy toewyding herbevestig tot die ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekerings-wetsontwerp. Hy het die ANC se manifes én die belangrikheid van die wetsontwerp beklemtoon om toegang tot gehalte gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners te verseker, sonder inagneming van hulle inkomste. Ramaphosa benadruk die belangrikheid van belegging in gesondheidgeriewe, die opleiding van gesondheidsorgberoepslui en die opknap van die gesondheidstelsel om billike toegang tot gesondheidsorgdienste te verseker:
# Die president van Duitsland, Frank-Walter Steinmeier, sê dis hoog tyd dat die land Namibië om verskoning vra vir die volksmoord op die Nama’s en Ovaherero’s tussen 1904 en 1908. Hy het die begrafnisdiens bygewoon van die ontslape Namibiese president, Hage Geingob, vandag in Windhoek. Steinmeier sê hy het laat verlede jaar met Geingob gepraat en die Namibiese leier het sy wens uitgespreek dat Namibië en Duitsland ‘n gesamentlike verklaring moet uitreik wat Duitsland se aanspreeklikheid erken vir die volksmoord, én onderneem om vergoeding- en ontwikkelingsteun te gee. Steinmeier het beklemtoon Duitsland bly verbind tot versoening.
# Rugby: Die Springbok Sewes het gisternag met 22-10 teen Ierland verloor in hulle laaste Groep C-wedstryd van die Vancouver Sewes. News24 berig die loesing teen Ierland laat die Suid-Afrikaners heel laaste in die groep eindig. Die Blitsbokke sal nou later vandag tevrede moet wees met ‘n uitspeelwedstryd om die negende plek. Hulle het Vrydag in hulle openingswedstryd Nieu-Seeland 21-12 geklop, voor hulle met 17-12 teen Groot Brittanje verloor het. Die vroue sewesspan moes ook die knie buig nadat hulle vanoggend 24-5 teen Japan verloor het. Brasilië het hulle laasnag met 17-12 geklop.
# En om af te sluit: Die Wes-Kaapse LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig, Reagen Allen, het vroeër bevestig die ses-jarige Joslin Smith word na ses dae steeds vermis. Die meisie van Saldanhabaai het Maandag soek geraak terwyl sy deur haar ma se vriend opgepas is. Joslin se ma doen ‘n beroep vir haar veilige terugkeer. Allen sê ‘n geïntegreerde polisietaakspan sit die soektogpogings voort, saam met gemeenskaplede en verskeie organisasies:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….