Nuus 09:00
BULLETIN 24 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier John Steenhuisen ontken kader-ontplooiingsbewerings
# Die Pan-Afrika Drankhandelaars-alliansie veroordeel die Enyobeni-taverne uitspraak
# En, rugby: Die Blitsbokke wen en verloor in Vancouver
# Die DA-leier John Steenhuisen het bewerings ontken van die voormalige leier van die DA in Gauteng en stigter van die Xiluva-party, Bongani Baloyi, oor die gebruik van kaderontplooiing in die party. Baloyi beweer senior munisipale aanstellings het goedkeuring vereis van die DA se federale uitvoerende komitee, iets wat Steenhuisen ontken:
# Die beskuldigdes in die Phala Phala-saak moet in April na die Landdroshof in Bela Bela, Limpopo, terugkeer nadat die hof ingelig is daar is ‘n uitleweringsproses aan die gang vir bykomende verdagtes in die diefstal van meer as tien-miljoen-rand op president Cyril Ramaphosa se plaas. Drie beskuldigdes, ‘n voormalige skoonmaker op die plaas, Froliana Joseph, haar broer David en die vermeende baasbrein, Imanuwela David, het gister weer in die hof verskyn. Die staatsaanklaer, Nkhhetheni Munyai, het uitstel versoek om uitstaande ondersoeke af te handel.
# Die Pan-Afrika Drankhandelaars-alliansie het die uitspraak veroordeel teen die eienaars van die Enyobeni-taverne, Siyakhangela and Vuyokazi Ndevu. Hulle is elk ‘n boete opgelê van vyf-duisend-rand of 100 dae tronkstaf vir die verkoop van alkohol aan minderjariges. Lucky Ntimane van die alliansie kritiseer die vonnis as te lig, en spreek sy ontevredenheid met die uitkoms van die saak uit:
# Kakaopryse het binne ‘n jaar met 65-persent gestyg, wat wêreldwyd uitdagings vir sjokoladeliefhebbers inhou. Produksie-terugslae in Wes-Afrika, die bron van 70-persent van die wêreld se kakao, en stygende suikerkoste, dra by tot die prysverhoging. Navorsing bewys egter verbruikers sal steeds sjokolade koop al moet hulle van handelsmerk verander of met kleiner porsies tevrede wees. Suid-Afrikaners, wat met inflasie én ekonomiese uitdagings te kampe het, het egter steeds ‘n goeie aptyt vir sjokolade, luidens Mondelēz International se spesiale verslag oor die stand van peuselhappies.
#En, rugby: Die Blitsbokke het hulle toernooi in Vancouver goed afgeskop toe hulle Nieu-Seeland vroeg vanoggend, Suid-Afrikaanse tyd, 21-12 geklop het. Kaptein Selvyn Davids het die eerste drie gedruk in die span se kragmeting in Groep C, en kort voor rustyd het hy weer oorgeduik. Trstan Leyds het die span se derde drie aangeteken. Die Suid-Afrikaners het egter vasgeval teen Groot Brittanje en 17-12 verloor. Die Suid-Afrikaanse Vrouespan moes ook die knie buig teen Ierland en het 28-7 verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….