Nuus 18:00
BULLETIN 23 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sibanye-Stillwater verminder sy besnoeiings in platinum-werksgeleenthede
# Die polisie vernietig meer as 18-duisend vuurwapens
# En Rugby: Ierland gaan voort met sy stryd om ‘n tweede agtereenvolgende Sesnasies-Grand Slam
# Sibanye Stillwater het ‘n beduidende arbeidsmagvermindering in sy Suid-Afrikaanse platinumgroep-metaalbedrywighede ingestel, wat ongeveer twee-duisend-133 poste besnoei het. Hierdie besluit volg op samesprekings met vakbonde om nie-winsgewende bedrywighede te herstruktureer. Aanvanklik was meer as vier-duisend werksgeleenthede in gevaar. Die onderneming verwag om ‘n verlies aan te teken vir die afgelope jaar weens uitdagings in platinumgroep-metaalpryse en bedryfskwessies. ‘n Nie-produserende platinumskag sal gesluit word as deel van die herstrukturering en produksie in twee ander sal verminder word. Daar is ook ‘n potensiële sluiting van ‘n vierde, indien die maandelikse verliese voortduur.
# Die polisie het meer as 18-duisend vuurwapens, vuurwapen-onderdele en ammunisie in Vanderbijlpark, in Gauteng, vernietig. Die vernietigingsoperasie was gerig op vuurwapens wat in misdade gebruik word, insluitend transitorooftogte en geslagsgeweld-sake. Dit is die tweede keer in die 2023/2024-boekjaar dat wapens vernietig word, met Gauteng die provinsie waar die meeste vuurwapens, naamlik drie-duisend-389, vernietig is. Met Operasie Shanela is daar sedert Mei verlede jaar op vierduisend onwettige vuurwapens beslag gelê, wat tot 10-duisend inhegtenisnemings gelei het.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het die Russiese opposisieleier Alexei Navalny se weduwee en dogter, Yulia (Joelia) en Dasha Navalnaya, in Kalifornië ontmoet. Navalny het ‘n week gelede in ‘n Arktiese tronk gesterf, met sy vrou wat die Russiese president, Vladimir Putin, beskuldig hy het sy dood gelas. Die VSA het vroeër vandag sanksies aangekondig teen sowat 500 Russiese burgers en ondernemings. Die Withuis het ‘n foto vrygestel van Biden wat Yulia in ‘n hotelkamer in San Francisco omhels, en hy het aan verslaggewers gesê sy sal voortgaan met haar man se stryd.
# Rugby: Internasionale aksie keer die naweek terug met die Sesnasies-reeks. Die verdedigende kampioen, Ierland, is môremiddag in Dublin gasheer vir Wallis voordat Skotland die ou vyand, Engeland, op Murrayfield in Edinburgh verwelkom. Die laaste wedstryd van die naweek sal Sondag tussen Frankryk en Italië in Lille plaasvind. Ierland het verlede seisoen die Grand Slam voltooi en is onoorwonne ná twee wedstryde, maar die afrigter, Andy Farrel, verwag ‘n groot aanslag van Wallis:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-262-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-4-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die oorskot van Namibië se wyle president, Hage Geingob, sal vandag deur die hoofstad, Windhoek, beweeg. Die adjunkhoof van Personeel en Gesamentlike Bedrywighede by die Ministerie van Verdediging en Veterane-sake, Rehabiam Kalimba, verwag duisende plaaslike en internasionale roubeklaers sal môremiddag Geingob se amptelike gedenkdiens by die Onafhanklikheidstadion bywoon, gevolg deur sy teraardebestelling by die nasionale Heldeakker Sondag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….