Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met Rugby: Die Bulle hoop Loftus sal stampvol wees wanneer die Stormers Pretoria volgende naweek besoek vir ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd. Die gashere wil die grootste aantal toeskouers in die VRK buite die uitspeelwedstryde lok. Meer as 20-duisend van die beskikbare 50-duisend kaartjies is reeds verkoop. Die Bulle se bemarkingsbestuurder, Shanil Mangaroo, sê daar is groot belangstelling in die tradisionele noord/suid-derby, wat as die mees betwiste tweestryd in die land beskou word.
En, nóg Rugbynuus, is dat Skotland se afrigter, Gregor Townsend môre se wedstryd teen Engeland bestempel as hul belangrikste dié seisoen. Hy het drie veranderings aangebring vir die stryd in die derde ronde van die Sesnasies-kragmeting op Murrayfield. Blair Kinghorn, Kyle Steyn en Jamie Ritchie is terug in die span. Skotland wil Engeland môre vir die eerste keer in 52 jaar vir ‘n vierde agtereenvolgende keer klop. Townsend sê ‘n tuiswedstryd teen hul grootste teenstander is iets spesiaal:
# Swem: Die DA sê hy gaan die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, vra om ‘n onafhanklike ondersoek in te stel na Swem Suid-Afrika. Dit volg nadat beide die mans- en vroue-waterpolospanne aan die Olimpiese Spele in Parys onttrek is weens hulle swak prestasie by die onlangse Wêreld-swemkampioenskapsbyeenkoms in Doha, Katar. Veronica van Dyk van die DA sê dit beklemtoon die sistemiese kwessies in SA Watersport:
# Tennis: Die 2018 Katar-wenner Gael Monfils is deur na die halfeindronde van die toernooi in Doha. Die 37-jarige Fransman het sy landgenoot Ugo Humbert met 6-2 en 6-4 geklop om die oudste halfeindronde-finalis in die toernooi se geskiedenis te word. Monfils takel vandag die 18-jarige Jakub Mensik vir ʼn plek in die eindstryd. Die Tsjeg het Andrey Rublev van Rusland met 6-4 en 7-6 verslaan om sy eerste toervlak-halfeindronde te haal. In die ander halfeindronde sal die Australiër Alexei Popyrin en Karen Khachanov van Rusland kragte meet.
# En, om mee af te sluit, Padwedlope: Die organiseerders van die Londen-marathon het aangekondig hy gaan die eerste ter wêreld word wat dieselfde prysgeld aanbied vir rolstoelgebruikers en gewone deelnemers. Die wenners van die elite wedlope vir nie-gestremde mans en vroue, en mans en vroue in rolstoele, sal almal 1,04-miljoen-rand ontvang. Die prysgeld vir tweede plek is net onder 568-duisend-rand, en die derde prys, 425-duisend. Die agtmalige rolstoelkampioen, David Weir van Brittanje, sê hy hoop ander byeenkomste sal dieselfde besluit neem. Die marathon vind op 21 April plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….