Nuus 08:00
BULLETIN 23 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid is bekommerd oor konsepwysigings aan die regulasies vir die maatskaplike noodverligtingstoelaag
# Die hof hoor die Rust-fliek se wapenhanteerder Hannah Gutierrez-Reed was nalatig
# En tennis, Gael Monfils word die oudste halfeindronde-finalis in die Katar Ope se geskiedenis
# Die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid sê die konsepwysigings aan die Covid-19 maatskaplike noodverligtingstoelaag sal begunstigdes negatief raak. Die wysigings laat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling toe om goedgekeurde aansoeke te kanselleer indien begunstigdes nie binne 90 dae nadat hulle kennis gekry het, hulle persoonlike en bankbesonderhede bywerk nie. Die instituut sê alhoewel die toelaag weereens verleng is, is sy begroting van 44-miljard-rand in 2022 tot 33,6-miljard-rand vanjaar besnoei wat beteken minder mense sal dit ontvang.
# Die Vereniging van Staatsamptenare veroordeel die onlangse omwenteling by die Staatsinligtingstegnologie-agentskap nadat die Hooggeregshof in Pretoria beslis het die verwydering van die vorige raad was onregmatig. Claude Naiker van die vereniging spreek kommer uit omdat daar ná die skielike bedanking en skorsing van sleutelpersoneel, nie behoorlike prosedures gevolg is met aanstellings nie. Hy vra die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Mondli Gungubele, om aan die hofbevel te voldoen, die vorige raad weer in te stel en bestuurskwessies aan te pak:
# Die Universiteit van Pretoria het die hof genader vir ‘n bevel wat stakende werknemers verbied om leer en onderrig te ontwrig. Die instelling beskuldig die betogers dat hulle studente intimideer en toegang tot die Hatfield-kampus weier. Die vakbond NEHAWU eis ʼn salarisverhoging van sewe-persent terwyl die universiteit vier-persent aanbied. Die instelling sê hy gaan tien maatreëls instel. Dit sluit in dat die betoging tot ʼn aangewese area beperk word en hulle gaan keer dat stakende werkers die personeel wat nie staak nie, intimideer.
# Die openingsverklarings in die rolprent-wapenhanteerder, Hannah Gutierrez-Reed, se verhoor oor die noodlottige skietvoorval op die stel van Rust, is gister in ʼn Amerikaanse hof aangehoor. Die kinematograaf Halyna Hutchins is dood nadat ʼn vuurwapen wat die akteur Alec Baldwin vasgehou het, in Oktober 2021 op die stel afgegaan het. Gutierrez-Reed het onskuldig gepleit op aanklagte van onwillekeurige manslag en dat sy met bewyse gepeuter het. Die spesiale aanklaer Jason Lewis sê Gutierrez-Reed se optrede was onprofessioneel en nalatig:
# Tennis: Die 2018 Katar-wenner Gael Monfils is deur na die halfeindronde van die toernooi in Doha. Die 37-jarige Fransman het sy landgenoot Ugo Humbert met 6-2 en 6-4 geklop om die oudste halfeindronde-finalis in die toernooi se geskiedenis te word. Monfils takel vandag die 18-jarige Jakub Mensik vir ʼn plek in die eindstryd. Die Tsjeg het Andrey Rublev van Rusland met 6-4 en 7-6 verslaan om sy eerste toervlak-halfeindronde te haal. In die ander halfeindronde sal die Australiër Alexei Popyrin en Karen Khachanov van Rusland kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-en-23-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….