Nuus 07:00
BULLETIN 23 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kenners maan teen die gebruik van Suid-Afrika se goud- en buitelandse valuta-reserwes
# TLU SA sê die 8,5-persent minimum loon is nie volhoubaar nie
# En, Alexei Navalny se ma sê sy het haar seun se liggaam gesien
# Kenners maan teen die besluit om Suid-Afrika se goud- en buitelandse valuta-reserwes te gebruik om skuld te verlig. Hulle beklemtoon die reserwes behoort eerder oordeelkundig gebruik te word vir ekonomiese groei, nie as gratis geld nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsredes het planne uitgelig om die Goud- en Buitelandse Valuta-gebeurlikheidsreserwerekening te gebruik om wisselkoers-skommelings teen te werk en die Reserwebank se bestendigheid te versterk, wat insluit die gebruik van Suid-Afrika se goud- en buitelandse valuta-reserwes om die steun op lenings te verlig.
# Die landbou-unie TLU SA sê hy het ‘n veldtog van stapel gestuur om boere te ondersteun wanneer die nuwe minimum loon van krag word. Die minimum loon styg van die eerste van volgende maand van 25-rand-42-sent per uur tot 27-rand-58-sent. Dit is ʼn verhoging van 8,5-persent. Bennie van Zyl van TLU SA sê die landbousektor kan nie die verhoging bekostig nie:
# Eskom ontken gerugte oor die aanbied van ‘n beloning van vyf-duisend-rand vir die aanmeld van onwettige verbindings. Dit volg op ‘n berig op sosiale media wat beweer die geld word aangebied vir die aanmeld van huishoudings met brugverbindings. Hoewel die nutsmaatskappy die aanmeld van elektrisiteitsdiefstal aanmoedig, is daar nie geld vir inligting nie. Eskom beklemtoon die belangrikheid van die aanmelding van elektrisiteitsdiefstal, wat ‘n groot deel uitmaak van sy verlies aan vermoë, wat bydra tot beurtkrag.
# Die Gesondheidsdepartement sê hy sal binnekort planne onthul vir die tydsbestek vir die werwing van gesondheidswerkers, wat insluit onlangs-gegradueerdes en werklose dokters. Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, verwelkom die Nasionale Tesourie se besluit om iets te doen aan begrotingsbeperkings, met erkenning aan die negatiewe uitwerking op die openbare gesondheidstelsel. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale sê met ‘n totale toekenning van 848-miljard-rand oor die mediumtermyn-uitgaweraamwerk, is 3,7-miljard-rand in die volgende boekjaar opsygesit vir personeelvergoeding en werwing:
# Die Russiese opposisieleier, Alexei Navalny, se ma sê sy het haar seun se liggaam in die lykshuis gesien en sy doodsertifikaat onderteken. Die 47-jarige Navalny is verlede week in die Arktiese gevangene-kolonie dood waar hy tronkstraf van 19 jaar moes uitdien op aanklagte wat baie as polities gemotiveerd beskou. Lyudmila Navalnaya sê in ʼn video-opname Russiese owerhede het haar gedreig om in te stem tot ʼn geheime begrafnis vir haar seun, anders sou hulle iets met sy liggaam doen. Sy het geëis dat hulle sy liggaam aan haar terugbesorg.
# Swem: Die DA sê hy gaan die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, vra om ʼn onafhanklike ondersoek in te stel na Swem Suid-Afrika. Dit volg nadat beide die mans- en vroue-waterpolospanne aan die Olimpiese Spele in Parys onttrek is weens hulle prestasie by die onlangse Wêreld-swemkampioenskapsbyeenkoms in Doha, Katar. Veronica van Dyk van die DA sê dit beklemtoon die sistemiese kwessies in SA Watersport:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-15-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-270-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-25-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….