Nuus 13:00
BULLETIN 22 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê die regstelsel moet ten alle koste beskerm word om die oppergesag van die reg te handhaaf
# ‘n Hiëna val ‘n werker in die Krugerwildtuin aan
# En, atletiek: ‘n Voormalige Olimpiese kampioen sê die voorgestelde verandering aan die verspringformaat is ‘n Aprilgek-grap
# RISE Mzansi verwelkom die besluit van die Nasionale Vergadeing om ‘n ampsklag te bevestig teen die geskorste Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe. Die party sê dit is uiters belangrik om klem te lê op die diepgaande belangrikheid van die werk en die onafhanklikheid van die regbank. Die woordvoerder Boitumelo Mpakanyane sê in ‘n grondwetlike demokrasie soos Suid-Afrika, is dit kritiek belangrik dat die reg moet voldoen aan die hoogste standaarde en sy amptenare moet optree soos dit hulle rol betaam:
# Die Oos-Kaapse Drankraad verwelkom die skuldigbevinding van die Enyobeni-taverne se eienaars, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, ná die dood van 21 tieners in Junie 2022. Die egpaar is skuldig bevind omdat hul minderjarige persone in die kuierplek toegelaat en alkohol aan hulle bedien het. Die hof het beslis hulle het die Oos-Kaapse Drankwet oortree deur te versuim om minderjariges te verhoed om binne te gaan. Die raad se woordvoerder, Mgwebi Msiya, is tevrede oor die uitspraak en hoop dit sal as afskrikmiddel dien vir ander drankhandelaars:
# ‘n Hiëna het gisteroggend ’n werknemer van die Krugerwildtuin aangeval terwyl sy in die Berg en Dal-woonkwartiere geslaap het. SANParke se woordvoerder, Isaac Mahlangu, sê die vrou se arm is beseer en haar toestand is bestendig. Die hiëna is uitgesit. Dit volg nadat ʼn kameelperd op Valentynsdag ʼn paartjie in die Greenstone-wildlandgoed in Mpumalanga aangeval het toe hulle die middag gaan stap het. Sakkie Dednam sê sy vrou, Yvonne, ly aan geheueverlies nadat sy ernstige hoofbeserings in die voorval opgedoen het.
# Die koste van ‘n huishoudelike kosmandjie het afgeneem, maar is steeds te hoog. Dit het in Februarie effens gedaal tot vyf-duisend-277-rand-30-sent, ‘n daling van 0,9-persent sedert Januarie, maar steeds 7,1-persent hoër as in Februarie 2023. Die oorsig deur die Pietermaritzburgse Ekonomiese Geregtigheids- en Waardigheidsgroep het vroue van lae-inkomstegemeenskappe in verskeie gebiede betrek. Die programkoördineerder, Mervyn Abrahams, neem kennis van die tipiese Februarie-afname, maar maan oor moontlike prysverhogings in Maart, in ooreenstemming met geskiedkundige neigings.
# Atletiek: Die voormalige Olimpiese kampioen Carl Lewis beskryf die voorgestelde formaatverandering aan verspring as ‘n Aprilgek-grap. Die uitvoerende hoof van Wêreldatletiek, Jon Ridgeon, stel voor die afspringbord moet vervang word met ‘n afspringsone, wat sal wegdoen met spronge wat gediskwalifiseer word weens oortrap. Spronge sal dan net gemeet word van waar die atlete vastrap tot waar hulle in die put land. Lewis, wat spog met nege Olimpiese medlajes, sê verspring is die moeilikste item en die verandering sal die spesiale vaardigheid wat dit vereis, uitskakel.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-856-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….