Nuus 11:00
BULLETIN 22 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In dié bulletin:
# Minister Nxesi vra Amplats vir aanvaarbare maniere om werkverliese te bestuur
# Freedom Under Law sê regters Hlophe en Motata se komende verwydering is ‘n hartseerdag vir die regbank
# En tennis: Carlos Alcaraz is vol vertroue oor sy Indian Wells-deelname ondanks ‘n enkelbesering
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, doen ‘n beroep op arbeidsleiers en die bestuur van Anglo American Platinum om saam ‘n aanvaarbare manier te vind om werkverliese te vermy of te beperk. Amplats moet uitgawes met nagenoeg vyf-miljard-rand sny, en het met ‘n afleggings-konsultasieproses begin wat kan lei tot die verlies van meer as vierduisend werksgeleenthede. Die departement se woordvoerder, Sabelo Mali, sê die minister erken die probleme weens interne en eksterne faktore, waaronder Amplats funksioneer:
# Freedom Under Law het die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe en afgetrede regter Nkola Motata se komende verwydering uit hul amp, verwelkom. ‘n Oorweldigende getal parlementslede het ten gunste van ʼn ampsklag teen hulle gestem nadat die Geregtelike Gedragstribunaal hulle aan growwe wangedrag skuldig bevind het. Freedom Under Law sê dis ʼn hartseer dag vir die regbank omdat dit die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis is dat regters weens wangedrag uit hul amp verwyder word. Hy sê dis egter noodsaaklik dat die regbank se integriteit beskerm word.
# Die Stad Tshwane sê hy kan nie gebiede van beurtkrag uitsluit wat nie toegewese netwerke het wat beurtkrag kan verlig nie. Die metro probeer tans die uitwerking van beurtkrag bekamp deur bedrywighede by die Rooiwal- en Pretoria-Wes-kragstasies weer aan die gang te kry. ʼn Woordvoerder van die stad, Themba Fosi, sê ʼn instelling wat van beurtkrag uitgesluit wil word, moet gereed wees om kragonderbrekings te hanteer deur die voorsiening van bystand-opwekkers of alternatiewe rugsteunstelsels:
# Israel se Vereniging vir Verkragting-krisissentrums sê hy het bewyse dat Hamas tydens die dodelike aanvalle op sewe Oktober stelselmatig en doelbewus seksuele misdade gepleeg het. Die vereniging het ʼn verslag vrygestel wat gebaseer is op getuienis, onderhoude en ander bronne oor die militante groep se seksuele geweld. Die verslag onthul Hamas het slagoffers gedreig, met wapens beseer en vroue dikwels as ‘n groep verkrag. Die Verenigde Nasies se spesiale verteenwoordiger oor seksuele geweld tydens konflik, ondersoek tans die saak.
# Tennis: Die wêreldnommer-twee, Carlos Alcaraz, sê hy is vol vertroue dat hy volgende maand wel sal kan deelneem aan die Indian Wells-toernooi. Die Spanjaard het sy regter-enkel verstuit tydens sy openingswedstryd in die Rio Ope in Brasilië, teen die plaaslike speler Thiago Monteiro, en hy moes hom onttrek na slegs twee potte. Alcaraz het een-duisend punte om te verdedig as die heersende Indian Wells-kampioen. Die Indian Wells-toernooi is een van die grootste toernooie naas die vier Grand Slams en begin op ses Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-690-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….