Nuus 07:00
BULLETIN 22 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom die Parlement se bevestiging van die ampsklag teen regter Hlophe
# Adjunkpresident Paul Mashatile se woordvoerder word geskors hangende ondersoeke na seksuele teistering
# En rugby, die Blitsbokke wil meer gedissiplineerd wees in Vancouver
# Die DA het die Nasionale Vergadering se besluit verwelkom om ten gunste van ‘n ampsklag teen die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe te stem. Hy sê die party het nog altyd gesê Hlophe het nie die integriteit om ʼn regter te wees nie. Parlementslede van tien uit die 14 politieke partye wat in die Parlement verteenwoordig word, het die verwydering ondersteun. Hlophe het op onbehoorlike wyse probeer om regters in die Konstitusionele Hof te beïnvloed in korrupsie-aanklagte teen die destydse president Jacob Zuma. Die DA sê Hlophe se optrede hou ʼn ernstige gevaar in vir die onpartydigheid en onafhanklikheid van die regstelsel.
Die EFF sê intussen die ampsklag teen Hlophe is ʼn stelselmatige aanval op Suid-Afrika se swart intelligentsia deur ʼn skadelike alliansie tussen die ANC en die DA. Altesaam 305 parlementslede het ten gunste van die ampsklag teen hom gestem en 27 daarteen. Niemand het buite stemming gebly nie. Busisiwe Mkhwebane van die EFF sê die prosedures in die saak teen Hlophe was onregverdig:
# Adjunkpresident Paul Mashatile se kantoor het die skorsing van sy woordvoerder, Vukani Mde, met onmiddellike effek aangekondig. Dit volg ná bewerings van seksuele teistering wat teen hom ingedien is. Mashatile se politieke raadgewer, Keith Khoza, sal hangende ondersoeke die woordvoerder wees. Mde het beloof om sy samewerking te gee met die ondersoeke, met die skorsing wat daarop gemik is om die beweerde slagoffer te beskerm. Die kantoor verseker sy verbintenis tot geregtigheid en deursigtigheid in die ondersoek.
# New York se staatsprokureur-generaal, Letitia James, sê sy sal nie huiwer om beslag te lê op oudpresident Donald Trump se geboue, insluitend sy Wall Street-wolkekrabber in Manhattan, as hy nie sy boete vir bedrog betaal nie. Trump, sy twee oudste seuns en vennote is Vrydag skuldig bevind dat hulle ʼn dekade lank doelbewus finansiële bedrog gepleeg het. Hulle is beveel om meer as 6,7-miljard-rand plus voor-vonnis-rente te betaal. James sê die omvang van Trump se bedrog is verstommend en finansiële bedrog laat ook slagoffers.
# Rugby: Die Springbok-sewes-voorspeler, Zain Davids, sê dissipline gaan die belangrikste faktor wees in die naweek se Wêreldreeks-sewestoernooi in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika is in dieselfde groep as Nieu-Seeland, Groot-Brittanje en Ierland. Die Blitsbokke is tans vierde op die punteleer. Davids, wat in sy sewende Vancouver-toernooi speel, sê die groep moet alles uithaal om hulle doelwitte in vanjaar se reeks te bereik:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-427-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-99-sent per vat.
# En ten slotte, die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag die huidige hittegolf, met bo-normale temperature, sal vir drie of meer dae voortduur. Hierdie toestand sal in Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap voorkom. Gebiede wat nie deel vorm van die hittegolf nie, sal steeds uiterste hitte ervaar, met openbare waarskuwings wat mense aanspoor om genoeg water te drink, buitelug-bedrywighede te beperk, geskikte klere te dra en kwesbare mense te monitor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….