Nuus 18:00
BULLETIN 21 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regering voorsien Transnet van 47-miljard-rand-waarborg vir herstelplan
# Krieket: Opwindende laaste-bal oorwinning vir Australië oor Nieu-Seeland
# en Londen se voormalige hoogste struktuur gaan in ‘n hotel omskep word
# Die regering het Transnet voorsien van ‘n waarborg-bedrag ter waarde van 47-miljard-rand om sy herstelplan te ondersteun en onmiddellike skuldverpligtinge na te kom. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het in sy begrotingsrede gesê die waarborg is gekoppel aan voorwaardes wat vereis Transnet moet op sy kernbedrywighede fokus, en die instelling moet privaat sektor vennootskappe instel. Godongwana sê ‘n privaat vennoot is verkry om hawehoof twee van die Durbanse houerterminaal op te gradeer, met die doel om privaat belegging te verhoog, tegnologiese vermoë te verbeter en bedryfsdoeltreffendheid te verbeter:
In nog ‘n verwikkeling het die Nasionale Tesourie ‘n belastingverhoging van 6,7- en 7,2-persent voorgestel op die aksynsbelasting op alkoholprodukte. Godongwana sê blikkies bier, sider en alkoholiese vrugtedrankies word met 14-persent verhoog, terwyl wyn en gefortifiseerde wyn se pryse styg met onderskeidelik met 28- en 47-sent. Hy sê tabak-aksynsbelasting styg met 4,7- en 8,2-persent vir verskillende produkte:
Intussen het die Vryheidsfront Plus se leier, Pieter Groenewald, sy kommer oor die stand van Suid-Afrika se ekonomie uitgespreek. Hy waarsku die voorgestelde begroting, wat gelewer is terwyl die land op pad is na die algemene verkiesing, kan ná die verkiesing verander. Groenewald noem spesifiek die moontlikheid van ‘n verhoging in belasting en brandstofheffings ná die verkiesing. Hy is ook bekommerd oor die potensiële uitwerking van globale maatskappybelasting op beleggings:
# Krieket: Australië het Nieu-Seeland met ses paaltjies geklop in ‘n opwindende eerste T20 in Wellington. Die gashere het 215 vir drie aangeteken, met Rachin Ravindra wat 68 bygedra het en Devon Conway 63. Australië het in die laaste twee boulbeurte nog 35 lopies nodig gehad, met vier paaltjies plat. Mitchell Marsh en Tim David het 19 lopies in die 19de beurt gemoker. Toe hulle vier van die laaste bal af moes kry, het David gedoen wat nodig was. Die oorblywende twee T20’s word Vrydag en Sondag gespeel, beide in Auckland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-173-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-26-sent per vat.
# En, Londen se ikoniese BT-toring gaan in ‘n hotel omskep word nadat dit verkoop is vir 6,5-miljard-rand. Die toring, wat 177-meter hoog is, is in 1965 voltooi vir televisie-uitsaaiers om te gebruik om seine te stuur, maar sy rol het afgeneem namate tegnologie verander het. Dit was tot 1981 die Britse hoofstad se hoogste struktuur. Die nuwe eienaars, MCR Hotels, erken dit sal etlike jare neem om die toring te herontwerp en te hergebruik nadat die vorige eienaars, die BT Group, die perseel ontruim het. Die onderneming het beloof om met plaaslike gemeenskappe te skakel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….