Nuus 17:00
BULLETIN 21 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Regering gaan maatreëls instel om beurtkrag te verminder en kragvoorsiening te verbeter
# Verkiesingskommissie maak gereed vir verkiesing ná datum aangekondig is
# Krieket: Virat Kohli onthul die rede vir sy afwesigheid in die toetsreeks teen Engeland
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana sê beurtkrag is ‘n kritieke saak wat alle Suid-Afrikaners raak, en ontwrig produksie, operasies en voortbestaan. Met die voorlê van die laaste begroting van die sesde administrasie, het hy gesê die hervorming van die energiesektor sal lei tot langtermyn energie-sekerheid. Hy sê die regering se besluite in die verlede lewer positiewe resultate. Om nog belegging in hernubare energie te bevorder, stel die begroting ‘n verhoging voor in die perk vir kwalifiserende hernubare projekte onder die koolstof-verrekeningstelsel van 15-megawatt tot 30-megawatt:
Godongwana het onthul die belastinginkomste vir 2023/24, wat op 7,73-duisend-miljard-rand staan, is 56,1-miljard-rand laer as wat geraam is. Godongwana het vanmiddag die begrotingsrede gelewer en gesê hierdie tekort kan toegeskryf word aan die swak prestasie van die ekonomie, wat lei tot ‘n erge verswakking in die invordering van belastinginkomste. Hy sê die afname in korporatiewe winste en inkomste uit belasting op mynbou is van die faktore wat tot hierdie tekort bydra:
Godongwana sê ook permanente maatskaplike toelaes word verhoog om in pas te bly met inflasie en om toegang te verhoog. Hy het in sy begrotingsrede ‘n verhoging van 100-rand aangekondig in die ouderdoms-, oorlogsveteraan-, en sorgafhanklikheidstoelaag. Die bedrag word verdeel tussen 90-rand vanaf April en nog 10-rand vanaf Oktober. Die pleegsorg-toelaag verhoog met 50-rand en die kindersorgtoelaag met 20-rand.
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê stemgeregtigde kiesers het tot Vrydag om vir die komende verkiesing te registreer, ná president Cyril Ramaphosa se aankondiging van die verkiesingsdatum. Die kommissie verwelkom die aankondiging en verskerp sy voorbereidings vir verkiesingsdag op 29 Mei. Die OVK sê kiesersregistrasie was suksesvol, met die kieserslys nou op 27,6-miljoen. Die kommissie sal die verkiesingsrooster in die Staatskoerant publiseer, met besonderhede oor sleuteldatums vir bedrywighede soos die sertifisering van die kieserslys en die indiening van kandidate se benoemings.
# Krieket: Die rede vir die skitterende Indiese kolwer, Virat Kohli, se afwesigheid van die sport is onthul – die geboorte van sy tweede kind. Die voormalige kaptein en sy vrou, die Bollywood-aktrise, Anushka Sharma, het verlede week hul seun, Akaay, verwelkom. Hulle het reeds ‘n dogter, Vamika. Kohli het ‘n verklaring vrygestel oor die baba se geboorte nadat sy afwesigheid van die huidige reeks van vyf toetse teen Engeland, toegeskryf was aan “persoonlike redes”, tot intense bespiegeling gelei het. Die egpaar vra seënwense, maar ook dat hul privaatheid gerespekteer word.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-364-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….