Nuus 16:00
BULLETIN 21 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sondebelasting styg met meer as inflasie
# Nasionale Vergadering gaan voort met oorweging van regter Hlophe se afdanking
# en Rugby: Bokke pak Wallis in Junie op Twickenham
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê aksynsbelasting vir alkoholiese produkte word met meer as inflasie verhoog. Dit sal prysstygings van tussen 6,7- en 7,2-persent vir 2024/25 meebring. Dit beteken:
‘n Blikkie bier word 14-sent duurder;
‘n Blikkie sider en alkoholiese vrugte-drankies styg ook met 14-sent;
‘n Bottel wyn sal 28-sent meer kos;
‘n Bottel gefortifiseerde wyn word 47-sent duurder;
‘n Bottel vonkelwyn se prys styg met 89-sent; en
‘n Bottel spiritus, wat insluit whisky, jenewer of vodka, styg met 5-rand-53-sent.
Aksynsbelasting vir tabak neem toe met 4,7-persent vir sigarette en sigaret-tabak, en met 8,2-persent vir pyptabak en sigare. Dit beteken ‘n styging van 97-sent op ‘n pakkie sigarette.
Godongwana het ook aangekondig die koolstof-brandstofheffing sal vanaf 3 April tot 11-sent per liter vir petrol en 14-sent per liter vir diesel styg. ‘n Besprekingsdokument waarin voorstelle vir die tweede fase van die koolstofbelasting uiteengesit word, sal later hierdie jaar vir openbare kommentaar gepubliseer word. Godongwana sê die regering is bedag op die reeds hoë lewenskoste en die uitwerking wat brandstofpryse op voedsel- en vervoerkoste het en juis daarom sal die algemene brandstofheffing nie vanjaar verhoog word nie.
# Die Parlement gaan voort om verslae te oorweeg oor die geskorste Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, en oudregter Nkola Motata nadat die Regterlike Dienskommissie hulle skuldig bevind het aan growwe wangedrag. Die Hooggeregshof in Kaapstad het vandag Hlophe se dringende aansoek verwerp vir ‘n interdik om die Parlement te verhoed om te stem oor die ampsaanklag teen hom, hangende sy Konstitusionele Hofaansoek. Daar is bevind dit voldoen nie aan die vereistes vir ‘n dringende interdik nie. Woordvoerder Moloto Mothapo sê die Parlement sal Hlophe se aansoek teenstaan:
# Die polisie- en gevangenisdiensvakbond, Popcru vra die Departement van Korrektiewe Dienste om die beëindiging van die kontrak met G-4-S Sekerheidsdienste by die Mangaung Korrektiewe Sentrum in Bloemfontein, in die Vrystaat, te verhaas. Die tronk was in Mei 2022 in die nuus ná die ontsnapping van die veroordeelde Facebook-verkragter en -moordenaar, Thabo Bester. Popcru se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die departement was verplig om die kontrak met drie maande te verleng:
# Rugby: Die Springbokke draf op 22 Junie die eerste keer weer op die veld sedert verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd wanneer hulle op die ikoniese Twickenham in Londen teen Wallis te staan kom. Die wedstryd in Londen om die Qatar Airways-beker sal die ideale voorbereiding wees vir die reeks teen Ierland, wat twee weke later begin. Die kragmeting is ‘n herhaling van 2015 se Wêreldbeker-kwarteindstryd op Twickenham, wat Suid-Afrika 23-19 gewen het.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-147-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….