Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 21 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kaapstad se Ou Graanskuur-gebou in Distrik Ses is uiteindelik amptelik herdoop na Desmond en Leah Tutu-huis om die lewe en werk van die ontslape Aartsbiskop-emeritus en sy vrou te eer en te herdenk. Die besluit is verlede jaar goedgekeur. In 2015 het die Desmond en Leah Tutu-erfenisstigting die opknapping van die gebou mede-finansier, sodat die stigting die ruimte as ‘n vredesentrum, argief, museum en kantoorruimte kan gebruik. Kaapstad se burgemeester sê die gebou is ‘n wonderlike metafoor vir die krag van transformasie en genesing.
# Die Universiteit van Suid-Afrika vier vandag Internasionale Moedertaaldag by sy Muckleneuk-kampus in Pretoria, onder die tema, Multilingual education: a pillar of learning and intergenerational learning. Internasionale Moedertaaldag word elke jaar gevier om linguistiese en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder. Doktor Napjadi Letsoalo van Unisa, sê die sleutel-item op die program is die private vertoning van ’n 30-minute dokumentêr getiteld Language of my Soul, wat handel oor die N|uu-taal, met Ouma Katrina Esau:
# Comic-Con Cape Town, die baie gewilde viering van die popkultuur, keer vanjaar van 27 April tot 1 Mei terug na die Moederstad. Bekendes soos die internasionale strokiesprent-ikoon, Dan Didio, en Anand Ramcheron van Durban wat kunswerke bygedra het vir die Marvel: Crisis Protocol-bordspeletjie, sal teenwoordig wees. Die organiseerders sê Comic Con Cape Town bied iets vir elkeen, van geharde ondersteuners tot gewone entoesiaste. Die goedkoopste kaartjies kos 190-rand.
# Beyoncé het geskiedenis gemaak as die eerste swart vrou boaan Billboard se Hot Country Songs-trefferlys toe haar lied Texas Hold ‘Em sy debuut as nommer een gemaak het. Haar ander nuwe country-liedjie, 16 Carriages, is in die negende plek. Beyoncé is ook die eerste vrou wat boaan die Hot Country– én Hot R&B/Hip-Hop Songs-trefferlys pronk sedert die lyste in 1958 begin het. Albei enkelsnitte sal op die tweede uitgawe van haar Renaissance-trilogie beskikbaar wees wat na verwagting op 29 Maart vrygestel word.
# En, die Oscar-bekroonde regisseur, Sam Mendes, beplan om vier afsonderlike flieks uit elke lid van die Beatles se oogpunt te maak. Paul McCartney, Ringo Starr en die families van wyle John Lennon en George Harrison het toestemming gegee vir die volle lewensverhaal en die musiekregte vir die flieks. Mendes sê hy is geëerd om die storie van die beste rock-groep ooit te vertel. Sony Pictures Entertainment sal die finansies verskaf en al vier films sal teen 2027 versprei word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….