Nuus 09:00
BULLETIN 21 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê die bevestiging van die verkiesingsdatum bring sekerheid vir partye en kiesers
# ActionSA sê hy is gereed om die ANC uit die kussings te lig
# En, Thabo Bester en sy medebeskuldigdes is terug in hof vir ‘n voorverhoor-konferensie
# Die Vryheidsfront Plus verwelkom die bevestiging van die verkiesingsdatum en sê dit bring meer sekerheid vir politieke partye en kiesers. Suid-Afrikaners gaan vanjaar op 29 Mei na die stembus. Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê hierdie sekerheid sal die momentum onder politieke partye, organisasies en die publiek ‘n hupstoot gee vir die verkiesing wat uiters belangrik is vir die toekoms van Suid-Afrika:
ActionSA sê intussen hy neem kennis van president Cyril Ramaphosa se aankondiging. Die party se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê ActionSA het die afgelope twee jaar strukture gebou in al nege provinsies, en het nou takke in meer as 45-persent van die wyke van die land. Hy sê die party is gereed vir die verkiesing en is vasbeslote om die ANC uit die kussings te lig:
# Die voorverhoor-konferensie teen die veroordeelde verkragter en moordenaar, Thabo Bester, en sy medebeskuldigde begin na verwagting vandag in die Hooggeregshof in Bloemfontein. Nege mense insluitend Bester se vriendin, Nandipha Maguduma en haar pa, staar aanklagte soos bedrog, korrupsie, bystand aan ʼn gevangene, lykskending, regsverydeling en brandstigting in die gesig. Bester word onder streng bewaking by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Tshwane aangehou.
# Twee mans is aangekla van moord in verband met ‘n skietery ná die Kansas City Chiefs se Super Bowl-oorwinningsparade verlede week. ’n Vrou wat uitgeken is as Lisa Lopez Galvan is dood en nóg 22 mense is gewond in die skietery in Kansas City, Missouri. Die aanklaer in Jackson, Jean Peters Baker, sê die verdagtes, Dominic Miller en Lyndell Mays, is aangekla van moord in die tweede graad, twee aanklagte van strafregtelike gewapende optrede en die onregmatige gebruik van ‘n wapen:
# Krieket: Indië se snelbouler, Jasprit Bumrah, sal ʼn blaaskans neem wanneer die vierde toets teen Engeland Vrydag in Ranchi begin. Die wêreld se nommer een toetsbouler het met 17 paaltjie tot dusver die meeste in die reeks lat kantel. Indië se krieketbeheerraad sê die besluit om Bumrah te laat rus, is geneem teen die agtergrond van hoeveel krieket wat hy die afgelope tyd gespeel het. Die snelbouler, Mukesh Kumar wat nie in die derde toets gespeel het nie, het intussen by die groep in Ranchi aangesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-967-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-30-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………