Nuus 18:00
BULLETIN 20 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die uMkhonto we Sizwe-party se registrasie is onwettig, en hou ‘n bedreiging in vir die kiesstelsel
# Die Presidensiële Klimaatkommissie kritiseer die Energie-ministerie se kragkrisis-plan
# En, Sokker: ‘n Taai stryd dreig aan die bopunt van die Premierliga-ranglys met Man City wat ‘n oorwinning soek
# Die ANC sê die uMkhonto we Sizwe-party se registrasie is onwettig, en hou ‘n bedreiging in vir die kiesstelsel. Die regerende party is in ‘n regsgeskil met die Onafhanklike Verkiesingskommissie gewikkel. Hulle voer aan die MK-party se versuim om verlede jaar sy registrasie reg te publiseer, het ander van die reg ontneem om beswaar te maak. News24 berig die ANC beskuldig die MK-party dat hy ‘n afgekeurde aansoek aanvul, beweerde handelsmerkskending en batediefstal. Die saak is op 19 Maart in die Kieshof in Bloemfontein.
# Die Presidensiële Klimaatkommissie sê die Energie-ministerie se strategie om die kragvoorsieningskrisis af te weer, skiet te kort. Hy sê die geïntegreerde hulpbronplan, wat tans oop is vir openbare kommentaar, beskik nie oor die doeltreffendheid om aandag te kan skenk aan klimaatsverandering en luggehalte-kwessies nie. BusinessTech berig die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, se voorspraak vir steenkool bots met die kommissie se strewe vir ‘n groen oorgang. Die kommissie sê te midde van gereelde kragonderbrekings vererger die plan se ontoereikendheid ekonomiese ellende en omgewingsbekommernisse. Hy vra dringende optrede om energie-sekerheid, klimaatsverandering en luggehaltekwessies aan te pak.
# ActionSA in die Wes-Kaap sê premier Alan Winde se provinsiale rede het nie duidelike planne teeb dalende bestuur, dienslewering en ongelykheid nie. Die party stel streng maatreëls teen misdaad, maatskaplike ondersteuning vir verslaafdes, verhoogde belegging in gesondheidsorg en ‘n nuwe benadering tot behuisings-voorsiening voor. Michelle Wasserman van ActionSA sê dringende ingrypings word benodig teen munisipaliteite wat ineenstort en die bedreiging van misdaad. Sy vra ‘n provinsie waar misdadigers nie voorskryf nie, en ‘n regering wat die behoeftes van alle inwoners dien:
# Die organisasie, SA Suikerrietkwekers vra die Nasionale Tesourie om die verhoging van gesondheids-bevorderingsheffings te heroorweeg, in aanloop tot die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede. Die suikerbedryf worstel reeds met groot uitdagings soos beurtkrag en hoë insetkoste, en waarsku die verhoging kan die bedryf duisende werksgeleenthede kos en kleinskaalse produsente in gevaar stel. Die organisasie vra die Tesourie om voorkeur te gee aan maatreëls wat ekonomiese herstel en werkbehoud aanhelp, en die uitwerking van so ‘n verhoging binne ‘n moeilike ekonomiese klimaat deeglik in gedagte te hou.
# Sokker: Dit is ‘n taai stryd aan die bopunt van die Engelse Premierliga, met Liverpool wat twee punte voor Arsenal lê, en die verdedigende kampioen, Manchester City, kort op hulle hakke. City kom vanaand teen Brentford te staan, en ‘n oorwinning sal hulle verby Arsenal neem tot ‘n punt agter Liverpool. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê ‘n lang seisoen lê nog voor:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-338-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….