Nuus 17:00
BULLETIN 20 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM vra minister Ebrahim Patel om te onttrek aan die toekenningsproses van loterylisensie
# Tshwane se burgemeester veroordeel die voorgestelde onttrekking van befondsing van munisipaliteite
# En, Olimpiese Spele: Afrigters bekommerd beurtkrag sal verhoed dat swemmers behoorlik voorberei
# Die African Transformation Movement het die minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, versoek om te onttrek aan die besluitnemingsproses vir die nuwe loterylisensie-tender om integriteit te handhaaf. Dit volg nadat ‘n verklikker kommer geopper het oor potensiële belangebotsings waarby Hosken Consolidated Investments en Ithuba betrokke is, sowel as die minister se verbintenis met H-C-I se uitvoerende hoof, John Copelyn. Die tender van meer as 180-miljard-rand het 18 bieërs gelok. Die ATM se president, Vuyo Zungula, waarsku oor verdere optrede indien Patel nie voldoen nie.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, het die voorstel gekritiseer om munisipaliteite se befondsing te onttrek, en dit ‘n slegte idee genoem. Hy het ‘n uitgelekte brief van die Nasionale Tesourie uitgelig wat waarsku oor moontlike verbeurings van onbestede toelaes en subsidies. Brink voer aan die begrotingstekort is te wyte aan oorbesteding aan Eskom-reddingsboeie en salarisverhogings, nie die plaaslike regering se onderbesteding nie. Hy doen ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om dit te heroorweeg en waarsku teen verwoestende gevolge vir noodsaaklike dienste en infrastruktuur. Brink versoek eerder hervormings:
# Noordwes se regering het ‘n ooreenkoms van verstandhouding met China se nasionale in-en-uitvoerkorporasie onderteken om beurtkrag te beëindig. Die waarnemende premier, Nono Maloyi, het die projek tydens die provinsiale rede aangekondig en die planne uiteengesit om ‘n gas-tot-kragaanleg in twee fases te bou. Hy sê die projek sal na verwagting ‘n minimum van tien-duisend werksgeleenthede skep:
# Olimpiese Spele: Die afrigters van Suid-Afrika se beste swemmers is bekommerd dat beurtkrag hulle kan verhoed om behoorlik voor te berei vir die Spele in Parys in die Europese somer. Swemmers was die grootste medaljewenners vir die land sedert hertoelating in 1992, en vanjaar se deelnemers soos Tatjana Schoenmaker, Pieter Coetzé, Lara van Niekerk en Matthew Sates, sal na verwagting die nasie trots maak. Afrigters sê egter hulle is nie verseker van ‘n verhitte swembad sodat hulle behoorlik kan voorberei gedurende die Suid-Afrikaanse herfs en winter nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-357-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-4-sent per vat.
# En, laastens: Die Stad Kaapstad het kommer uitgespreek oor die toename in tienermeisies wat vir hul eerste besoek by voorgeboorteklinieke opdaag. Tussen Julie 2022 en Junie 2023 het 632 tieners tussen 12 en 17 jaar voorgeboorteklinieke besoek teenoor 355 die vorige jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdiens en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die toename is in al die stad se gesondheidsdistrikte waargeneem:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….