Nuus 15:00
BULLETIN 20 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die werkloosheidskoers neem toe in die vierde kwartaal van 2023
# ‘n Ondersoekende regter sê privaat tronke is ‘n vermorsing van belastingbetalers-geld
# En, Sokker: Duitsland se 1990-Wêreldbeker-held sterf op 63
# Statistiek SA het aangekondig 22-duisend minder mense het in die vierde kwartaal van verlede jaar werk gehad. Die uitslae van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname dui aan die amptelike werkloosheidskoers het van 31,9-persent in die derde kwartaal tot 32,1-persent toegeneem. Indiensneming in die formele sektor het afgeneem, terwyl indiensneming in die informele sektor toegeneem het. Nywerhede wat werk verloor het, sluit in gemeenskaps- en maatskaplike dienste, konstruksie, landbou, handel en vervaardiging. Werksverliese is aangeteken in die Oos-Kaap, Limpopo, Noordwes en die Noord-Kaap. Die grootste toename in indiensneming is in KwaZulu-Natal aangeteken, gevolg deur Mpumalanga en die Wes-Kaap.
# Die ondersoekende regter vir Korrektiewe Dienste sê Suid-Afrika se privaat tronke is skouspelagtige mislukkings en ’n vermorsing van belastingbetalers-geld. Regter Edwin Cameron sê Thabo Bester sou gesukkel het om uit ‘n gewone tronk van Korrektiewe Dienste te ontsnap. eNCA berig Cameron het Bester se ontsnapping uit die Mangaung-korrektiewe sentrum in Bloemfontein onthul toe hy ’n verslag laat uitlek het waarvolgens die verbrande liggaam wat in Bester se sel gevind is, iemand anders s’n was. Cameron sê G-4-S, wat die tronk bestuur, en die departement, moet aanspreeklik gehou word vir voortslepende korrupsie en wanbestuur.
# Die DA in Gauteng moedig alle ouers en voogde aan om aan die komende skoolbeheerliggaamverkiesings deel te neem en só te help verseker dat hul kinders toegang tot kwaliteit-onderwys het. Die verkiesings vind van 1 tot 31 Maart plaas. Sergio Isa dos Santos van die DA sê die beheerliggame speel ‘n deurslaggewende rol in die administrasie van skole en toesig oor daaglikse bestuur en help ook met besluite oor belangrike beleid, oor kwessies soos toelating en taalvoorkeur:
# Die waarnemende hoof-staats-regs-adviseur van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Pieter Andreas Stemmet, sê Suid-Afrika beywer hom vir die Palestynse volk se wesentlike reg op selfbeskikking. Hy herhaal die Verenigde Nasies se amptelike erkenning van Palestyne se ingewortelde reg om self hul politieke status te bepaal. Suid-Afrika en ander lande het betoë teen Israel se besetting by die Internasionale Geregshof in Den Haag, Nederland, voorgelê. Stemmet verwys na deeglik-gedokumenteerde oortredings. Hy sê Israel maak hom skuldig aan apartheid:
# Sokker: Die speler wat Duitsland se wendoel in 1990 se Wêreldbeker-eindstryd aangeteken het, Andreas Brehme, is in die ouderdom van 63 oorlede. Hy het ‘n strafdoel in die 85ste minuut teen Argentinië in Rome ingeskop en aan Duitsland ‘n oorwinning van 1-nul besorg. Brehme het sy land 86 keer verteenwoordig en die Bundes-liga met Bayern München en Kaiserslautern gewen, asook Italië se Serie A met Inter Milan. Sy dood, wat aan hartstilstand toegeskryf word, volg ‘n maand ná dié van Duitsland se afrigter tydens 1990 se Wêreldbekertoernooi, Franz Beckenbauer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-343-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-25-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….