Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 20 Februarie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Johannesburgse Rolprentfees sê die bekroonde akteur, musikant en filantroop, Malik Yoba sal ‘n tikkie Hollywood-glans na die geleentheid bring met sy teenwoordigheid. Die fees, wat van 27 Februarie tot drie Maart plaasvind, sal ‘n uiteenlopende reeks rolprente van regoor die wêreld aanbied, en beloof om ‘n onvergeetlike rolprentervaring vir besoekers te wees. Yoba is uiters toegewyd om jong talent in die bedryf te koester en te bemagtig. Om sy verbintenis te versterk om jongmense te bou, sal hy ‘n meesterklas aanbied wat sal fokus op jeug-ontwikkeling.
# Die Open Book-fees het vanjaar se deelnemers aan sy Jeugfees wat volgende maand in Kaapstad plaasvind, bekendgemaak. Die doel van die fees is om kreatiwiteit te bevorder, ‘n liefde vir letterkunde te skep en die volgende geslag storievertellers te ondersteun. Dit sluit ʼn indrukwekkende groep bekende skrywers, digters en storievertellers in wat boeiende voorlesings en interaktiewe sessies sal lei. Sommige van die geleenthede sluit in Storytime with Makazi Nomabali by die Kaapstad Kindermuseum en Creating Your Character met die hoog aangeskrewe illustreerder, Clyde Beech, by die Langa-biblioteek.
# Die Universiteit van Pretoria het merkwaardige posisies behaal in Times se 2023-wêreldranglys vir aansien in onderrig sowel as onderwys en navorsing. In onderwys het die instelling sy tweede plek in Suid-Afrika behou, terwyl hy vierde is in die navorsingsafdeling. Die universiteit is nommer 395 wêreldwyd, 385 in onderwys en 398 in navorsing. Die Universiteit van Pretoria se tussentydse vise-kansellier en rektor, Themba Mosia, sê die tweede plek in Suid-Afrika simboliseer die instelling se vasberadenheid om ‘n omgewing te skep wat kritieke denke, innovering en praktiese leerondervinding aanmoedig.
# Die organisasie sonder winsbejag GirlCode gaan sy tiende jaarlikse Hackaton aanbied met die tema Bemagtig Verandering Regoor Afrika. Die uitvoerende hoof, Zandile Mkwanazi, sê die inisiatief van bemagtiging deur tegnologie strek reeds oor tien stede in Afrika en speel ‘n groot rol speel om die werkloosheidskoers te verlaag deur geleenthede vir vroue. Mkwanazi sê tegnologie is noodsaaklik om ‘n volhoubare toekoms te skep en ‘n bydrae tot positiewe verandering regoor die vasteland te maak, terwyl dit vroue aanmoedig om deel te wees van gebiede waar mans vroeër oorheers het.
# En om mee af te sluit: Die kunstenaar Vanessa Williams gaan Runway se intimiderende hoofredakteur, Miranda Priestly, in die musiekblyspel The Devil Wears Prada in Londen se Weseinde vertolk. Die blyspel is gegrond op die topverkoper-boek en fliek van 2006 waarin Meryl Streep Miranda was en Anne Hathaway haar mode-onbewuste assistent, Andy Sachs. Die blyspel sluit musiek in van die vyfmalige Grammy-wenner Elton John, met die choreografie deur die Tony-bekroonde Jerry Mitchell. Dit open in Oktober in die Dominion-teater.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….