Nuus 12:00
BULLETIN 20 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF in Gauteng sê premier Lesufi het nie die vermoë om e-tol te beëindig nie
# Kaapstad se burgemeester vra die minister van Finansies om nie die toelaes vir armes te besnoei nie
# En, Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, het sy steun aan Jonny Bairstow toegesê om sy kolfwerk reg te ruk
# Die EFF in Gauteng het premier Panyaza Lesufi se provinsiale rede verwerp. Die party sê Lesufi gaan voort om vir die mense van Gauteng te lieg. Die party voer aan Lesufi het in sy vorige toespraak beloof dat e-tol iets van die verlede sal wees. Naledi Chirwa-Mpungose van die EFF sê Lesufi het geen vermoë om e-tol te beëindig nie:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, versoek om nié noodverligtingstoelaes aan munisipaliteite en provinsies te besnoei nie. Die minister sal môre sy begrotingsrede lewer. Meer as 107-miljoen-rand is reeds in die 2023/2024-boekjaar van toelaes vir Kaapstad vir behuising en informele nedersettings besnoei as deel van landwye maatreëls. Hill-Lewis sê hulle maak ernstig beswaar teen enige verdere begrotingsbesnoeiings aan armoedeverligtingsbystand:
# Die Britse regering het oproepe verwerp dat ‘n gevangene uitgeruil word vir die vrylating van Vladimir Kara-Murza, wat dubbele Brits-Russiese burgerskap het. Hy is ʼn gewese joernalis wat 25 jaar tronkstraf in Moskou uitdien vir hoogverraad. Kara-Murza het twee voorvalle van vergiftiging oorleef, waarvoor hy Russiese owerhede die skuld gee. Hy verwerp die aanklagte teen hom en sê dis omdat hy hom teen president Vladimir Putin uitspreek. Lede van die Britse Parlement het ná die opposisieleier Alexei Navalny se dood vrese uitgespreek dat Kara-Murza volgende kan wees. Die regering sê hy doen alles moontlik om Kara-Murza se vrylating te bewerkstellig.
# Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, het sy steun aan Jonny Bairstow toegesê en sê hy beplan nie om hom weg te laat vir die vierde toets teen Indië nie. Die 34-jarige is skerp gekritiseer oor sy kolfwerk toe hy slegs 102 lopies in die eerste drie toetse aangeteken het. Hy het vier lopies aangeteken in Engeland se nederlaag van 434 lopies in die derde toets in Rajkot. McCullum erken Bairstow het in die reeks onderpresteer, maar sê hulle moet sy selfvertroue herstel en hom help om op die taak ter hande te fokus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-794-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-21-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-23-sent per vat.
# En, laastens: Die kunstenaar Vanessa Williams gaan Runway se intimiderende hoofredakteur, Miranda Priestly, in die musiekblyspel The Devil Wears Prada in Londen se Weseinde vertolk. Die blyspel is gegrond op die topverkoper-boek en fliek van 2006 waarin Meryl Streep Miranda was en Anne Hathaway haar mode-onbewuste assistent, Andy Sachs. Die blyspel sluit musiek in van die vyfmalige Grammy-wenner Elton John, met die choreografie deur die Tony-bekroonde Jerry Mitchell. Dit open in Oktober in die Dominion-teater.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….