Nuus 09:00
BULLETIN 20 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA onthul sy alternatiewe begroting om Suid-Afrika te laat herleef
# Die IVP sê die begrotingsrede moet op die beheer van regeringsuitgawes fokus
# En, die afgryslike toestand van beeste op ‘n skip in die hawe in Kaapstad, word veroordeel
# Die DA het sy alternatiewe begroting bekend gestel, wat volhoubare ekonomiese groei en werkskepping vooropstel. Die party stel markgerigte hervormings voor, wat vra vir die verwydering van regerings-opgelegde struikelblokke na groei en die herlewing van instellings in staatsbesit. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal môre sy begrotingsrede lewer. Dion George van die DA vra die ontbondeling van Eskom en onafhanklike kragprodusente om die voortslepende kragkrisis aan te pak. George sê president Cyril Ramaphosa se administrasie het miljoene burgers in armoede en wanhoop gedompel:
Intussen waarsku die IVP die ANC om nie die land se finansies te gebruik op projekte om voor die verkiesing vir die party guns te wen nie. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy begrotingsrede. Die IVP sê hierdie begrotingsrede vind plaas op ‘n tyd waar die ekonomie die rand van ʼn afgrond nader. Hy sê die minister moet ʼn plan voorlê om regeringskuld onder beheer te kry, om in sektore te belê wat bestaande werksgeleenthede behou, wat fokus op die land se massa-infrastruktuurprogramme en meer fondse vir plaaslike regering beskikbaar stel.
# Die Stad Kaapstad sê hy veroordeel die afskuwelike toestand waaronder diere op die Al Kuwait-skip vervoer word. Die boot wat 19-duisend beeste vervoer, is tans in die Kaapstadse hawe vasgemeer. Die DBV het gister ʼn hofbevel gekry om die skip te inspekteer nadat ʼn verskriklike stank daaruit gekom het. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê die stad waardeer die DBV-amptenare se proaktiewe pogings om die toestande op die skip te ondersoek:
# Tennis: Die Amerikaner Taylor Fritz het sy titel by die Delray Beach Ope suksesvol verdedig en spog met sy sewende loopbaan-titel. Die wêreld se nommer tien het sy landgenoot, Tommy Paul, met 6-2 en 6-3 verslaan om slegs die tweede speler in die toernooi se geskiedenis te word om dit twee jaar na mekaar te wen. Fritz sê hy het ʼn lang lys goed gehad wat hy reg moes doen, maar die winderige toestande tydens die wedstryd het alles verander:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-791-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-19-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-42-sent per vat.
# En laastens, vandag is Wêrelddag van Maatskaplike Geregtigheid en vanjaar se tema is Bridging Gaps, Building Alliances. Die doel is om ‘n platform te bied van waar mense ingelig kan word oor onregte oor die wêreld heen. Die Verenigde Nasies sê maatskaplike ongeregtigheid kan nie beëindig word sonder vrede en veiligheid nie, of sonder respek vir alle menseregte en fundamentele vryhede nie. Hy sê instellings en beleid wat maatskaplike geregtigheid bevorder, moet dringend versterk word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….