Nuus 08:00
BULLETIN 20 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement Gesondheid sê die video op sosiale media oor Covid-19-sterftes weens inenting is misleidend
# Die DA in Gauteng sê Lesufi bied geen ware oplossings om inwoners te help nie
# En in motorsport, Formule Een se voorseisoen-toetse begin met almal wat Max Verstappen jaag
# Die Departement van Gesondheid sê ‘n stemboodskap wat op sosiale media die rondte doen, is misleidend. Die boodskap beweer mense wat teen Covid-19 ingeënt is, sterf. Die stemboodskap adverteer die gebruik van ʼn ongeregistreerde produk wat oor die toonbank gekoop word, Nature`s Choice Activated Charcoal, as oplossing om die beweerde sterftes te voorkom. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê geen sterfgevalle wat met Covid-19-entstowwe verband hou is aangemeld nie, buiten die drie wat die departement verlede jaar gerapporteer het:
# Cosatu se gewese hoofsekretaris, Mbhazima Shilowa, beklemtoon die behoefte vir die vakbondfederasie om oortuigende redes te gee vir sy lede om die ANC in die komende verkiesing te steun. Die organisasie vra sy lede om vir sy alliansievennoot te stem, en Shilowa sê leiers moet bereid wees om moeilike vrae te beantwoord. Hy merk op dat sommige lede onafhanklik gestem het, wat uitgeloop het op die ANC se verlies van sekere metro’s. Shilowa onderstreep die belangrikheid dat daar op takvlak met lede gepraat moet word oor die kwessies.
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi het inwoners geen ware oplossings gebied om hulle welstand te verbeter nie. Die premier het gisteraand sy provinsiale rede gelewer. Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê Lesufi het geen oplossing vir die voortslepende beurtkragkrisis nie, maar hy maak dit munisipaliteite se probleem en dié sukkel reeds om basiese dienste te lewer:
# Amerika het in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad ʼn konsepresolusie voorgestel vir ʼn tydelike skietstilstand in Gaza, en dat Israel nie voortgaan met ʼn beplande aanval in Rafah nie. Die konsepresolusie wat die Biden-administrasie voorstel, is ʼn alternatief vir dié van Algerië waarin ʼn onmiddellike humanitêre skietstilstand gevra word. Amerika waarsku teen die gevolge van ʼn Israelse grondaanval in Rafah en sê dit sal burgerlikes verder benadeel en ontwortel wat kan beteken hulle moet na buurlande gaan.
# Motorsport: Die nuwe Formule Een-seisoen kom môre in Bahrein aan die gang, waar die motors tot Vrydag getoets sal word. Red Bull het die vorige seisoen oorheers, met die Nederlandse renjaer Max Verstappen wat maklik sy derde agtereenvolgende bestuurderskampioenskap ingepalm het. Hy het ‘n rekord 19 uit 22 wedrenne gewen, en sy span het weggestap met sy sesde vervaardigerskampioenskap. Die Bahreinse Grand Prix vind volgende naweek plaas, en Verstappen hoop vir nog ‘n goeie seisoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-574-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….