Nuus 06:00
BULLETIN 20 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA ontvang die ANC se kaderontplooiingsrekords
# Die Europese Unie beloof om Putin aanspreeklik te hou vir Navalny se dood
# En rugby, die Blitsbokke pak die All Blacks, Groot-Brittanje en Ierland in Vancouver
# Die DA het bevestig dat hy die ANC se kaderontplooiingsrekords ontvang het. Die rekords strek terug tot die eerste Januarie 2013, toe president Cyril Ramaphosa voorsitter van die komitee geword het. Die Konstitusionele Hof het verlede week die ANC se aansoek van die hand gewys, waarvolgens die party wou appelleer teen ‘n bevel deur ‘n laer hof om die rekords te oorhandig. Leon Schreiber van die DA sê dit is ‘n belangrike oorwinning in die party se stryd teen kaderontplooiingskorrupsie in Suid-Afrika:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid toestemming gegee om beweerde wanadministrasie en onregmatige optrede by Binnelandse Sake en die spooragentskap Prasa te ondersoek. Dit is daarop gemik om die staat se geldelike verliese te ontbloot wat minstens tien jaar terugdateer vir Binnelandse Sake en 14 jaar vir Prasa. Die SOE sal ook onbehoorlike optrede nagaan rakende die aanbring van T200-brandmure by Binnelandse Sake. Die proklamasies dek verskeie visum- en burgerskapsake by die departement en tender-verwante kwessies by Prasa.
# FTI Consulting se navorsing het aan die lig gebring die befondsing van die Nasionale Gesondheidsversekering sal van elke formeel werkende persoon verg om een-duisend-500-rand per-maand deur ‘n betaalstaat-belasting by te dra. Andersins kan ‘n aansienlike BTW-verhoging van tot 22-persent nodig wees, of ‘n verhoging van minstens 30-persent in inkomstebelasting. BusinessTech berig ook kenners waarsku die NGV het in sy huidige vorm geen ekonomiese lewensvatbaarheid nie. Die Gesondheidsdepartement het aangedui belastingbetalers sal die onkoste dra, moontlik deur aansienlike belastingverhogings. Ekonome is egter verdeeld of die Nasionale Tesourie sulke veranderings sal voorstel.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê ten spyte van werksverliese gedurende die Covid-19-pandemie, het die provinsiale ekonomie veerkragtig gebly. Hy het gisteraand die Provinsiale Rede by die Nasrec-eksposentrum gelewer. Lesufi sê die provinsie het meer as 68-miljard-rand se beleggings van 261 buitelandse maatskappye gelok en sowat 23-duisend regstreekse werksgeleenthede in die ekonomie geskep:
# Die Europese Unie se hoof van Buitelandse Beleid, Josep Borrell, het belowe dat die Russiese president, Vladimir Putin, aanspreeklik gehou sal word vir die dood van Alexei Navalny. Die 47-jarige was een van Rusland se belangrikste opposisiefigure en is in ‘n Arktiese tronkkolonie dood waar hy ‘n termyn van 19 jaar uitgedien het vir aanklagte wat as polities gemotiveerd beskou is. Borrell sê ingevolge die EU-blok se 13de sanksiepakket behoort die Russiese tronkbeamptes wat met Navalny se dood verbind word, se bates bevries te word met ‘n verbod op reis.
# Rugby: Die Blitsbokke is in dieselfde groep as die All Blacks, Groot-Brittanje en Ierland in die naweek se wêreldreeks-sewestoernooi in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika is tans vierde op die punteleer nadat hulle die eerste toernooi in Dubai gewen het, maar in Kaapstad en Perth nie baie goed gevaar nie. Argentinië is bo-aan die punteleer nadat hulle in die Moederstad en Australië gewen het, met Fidji tweede en Australië derde. Vancouver word gevolg deur die toernooi in Los Angeles in die Verenigde State volgende naweek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-612-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-18-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………