Nuus 16:00
BULLETIN 19 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die skietery by Laerskool Primrose is op ‘n WhatsApp-groep beplan
# Tennis: Die Delray Beach Ope-eindstryd is weens reën tot vandag uitgestel
# En, die SA Weerdiens waarsku oor ‘n verlengde hittegolf tot Saterdag
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het bevestig verlede week se skietvoorval by die Laerskool Primrose is op ‘n WhatsApp-groep beplan. Hy het onthul die Graad 6-leerder het beplan om die skoolhoof, die onderhoof en die klas se onderwyser te teiken. Die leerder word van poging tot moord aangekla en verskyn vandag in die hof. Chiloane pleit by ouers om waaksaam te wees en te keer dat hulle kinders gevaarlike wapens skool toe bring:
# Anglo American Platinum het planne onthul om drie-duisend-700 werknemers in sy platinum metaalontginningsafdeling af te lê, wat meer as 600 gekontrakteerde maatskappye raak. Die besluit volg op ‘n 71-persent wins-afname, van 49,2-miljard-rand in 2022 tot 13-miljard-rand verlede jaar. Dit word toegeskryf aan ‘n 35-persent daling in die platinum-groepmetale dollarprys in die 2023-boekjaar. Die uitvoerende hoof, Craig Miller beklemtoon die behoefte aan maatreëls wat veerkragtigheid en mededingendheid versterk. Die maatskappy sal met onderhandelings oor herstrukturering met werknemers en vakbonde begin.
# Die Stad Tshwane sê kabeldiefstal en die vernietiging van die metro se eiendom het ‘n groot las geword. Verlede Maandag is skade van sowat 250-duisend-rand aangerig by die Temba-watersuiweringsaanleg in Hammanskraal toe kabeldiefstal en die beskadiging van panele voorgekom het. Woensdag is nog ʼn voorval aangemeld. Die burgemeester Cilliers Brink sê kabeldiefstal en vandalisme plaas ʼn groot finansiële las op die metro se beperkte begroting:
# Tennis: Die eindstryd van die Delray Beach Ope in Florida word eers vandag gespeel nadat reën dit gister ontwrig het. Die Amerikaners Taylor Fritz en Tommy Paul pak mekaar om die titel. Die topgekeurde Fritz, die verdedigende kampioen, het die ongekeurde Rinky Hikiata van Australië in die halfeindstryd geklop, terwyl die derde-gekeurde Paul sy landgenoot Frances Tiafoe uitgeskakel het. Die dubbels-eindstryd word ook vandag gespeel, met Neal Skupski van Brittanje en Santiago Gonzalez van Mexiko wat te staan kom teen nog ‘n Brit, Julian Cash, en die Amerikaner Robert Galloway.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-360-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-18-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-19-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik oor uiterste brandgevaar in dele van Noordwes, die Vrystaat, die Noord-Kaap en die Wes-Kaap. Hittegolftoestande met aanhoudende hoë temperature, wat bo die gemiddelde maksimums is, word deur die week voorspel. Hierdie toestande sal na verwagting versprei en meer gebiede beïnvloed tot Saterdag. Baie warm tot uiters warm toestande word oor die hele Wes-Kaap en Namakwa-distrik in die Noord-Kaap verwag. Inwoners word aangeraai om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….