Nuus 09:00
BULLETIN 17 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die Gautengse regering vir strenger veiligheidsmaatreëls by skole
# Die ANC is haaks oor ‘n VBS-Mutual Bank-beskuldigde se aanstelling
# En, swem: Coetzé verower Suid-Afrika se eerste medalje by die Wêreldkampioenskappe in Doha
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op die provinsiale regering om veiligheidsmaatreëls in en buite skoolterreine te versterk om ‘n veilige omgewing vir leerders en onderwysers te skep. Dit volg na die tragiese voorval waarin ‘n skoolhoof van die Laerskool Primrose Hill in Germiston gewond is na hy na bewering deur ‘n Graad Ses-leerder geskiet is. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê die voorval is die vyfde tragiese een in Gauteng sedert die begin van die 2024 akademiese jaar:
Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta vra ook die regering om maniere te vind vir die beskerming van onderwysers en skoolhoofde teen weerbarstige elemente. Hy sê die vlak van misdaad in skole styg steeds teen ‘n ontstellende tempo. Daar is geen twyfel nie die misdadige optrede waaraan leerders in die gemeenskap blootgestel word, eindig in skole. Makaneta het die voorval by die Laerskool Primrose Hill in Germiston ten sterkste veroordeel:
# Die ANC-beheerde Moses Kotane-munisipaliteit in Noordwes beleef onmin na die aanstelling van hoof-finansiële beampte Mzwandile Mkhize, wat by die VBS Mutual Bank-skandaal betrek word. Die koukus keur sy aanstelling goed ten spyte van die provinsiale uitvoerende komitee se opdrag dat Mkhize weens die bedrogbewerings verwyder word. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het opdrag gegee dat Mkhize volgens die party se teenkorrupsiebeleid afgedank word. Die munisipale raad het egter Mkhize se aanstelling bekragtig, wat aanleiding gee tot ‘n dooiepunt tussen die party se opdragte en plaaslike besluite.
# Die EFF in Gauteng het reageer op die Nasionale Tesourie se plan om voorwaardelike toelaes aan Ekurhuleni te staak, weens onderprestasie. Hulle beweer onlangse vordering met die aanvang van projekte en voldoening aan voorsieningskettingsbeleid sal uitgawes tot meer as 95-persent verhoog. Die EFF kritiseer vorige mislukkings om toelaebesteding te vergroot, en beloof volle toewysing vir dienslewering. Die party-lid, Dumisani Baleni, het vertroue uitgespreek in die bereiking van teikens vir die jaareind-bestedings:
# En, swem: Pieter Coetzé het met ‘n sterk eindpoging vorendag gekom en van die agtste plek na die derde plek opgeskuif in die 200-meter rugslag om Suid-Afrika se eerste medalje in die Wêreldswemkampioenskappe gisteraand in Doha te verower. Die 19-jarige het die bronsmedalje in ‘n persoonlike beste tyd van een-minuut-55,99-sekondes ingepalm. Erin Gallagher is van ‘n plek in haar tweede eindstryd verseker deur derde in die 50-meter vlinderslag halfeindronde te eindig. Sy het die sesde vinnigste kwalifiserende tyd vir vanaand se eindronde opgestel. Die veteraan Chad le Clos het vroeër gisteraand sy 100-meter vlinderslag halfeindronde gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….