Eko-minuut 13:30
BULLETIN 16 Februarie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# ’n Mega-hibriede-kragsentrale wat oor meer as 400 hektaar strek tussen die dorpe Ceres en Sutherland het finansiële sluiting bereik. Die kragsentrale is een van elf wat deur die regering gekies is in sy noodkragverkrygingsbodvenster van 2021, en bestaan uit ‘n mengsel van sonkrag-, fotovoltaïese krag-, windkrag- en battery-energiebergingstegnologie. Een van die projekontwikkelaars, G7 Renewable Energies, sê, met ‘n gesamentlike kapasiteit van byna 335 megawatt, is die Oya Energy Hybrid-projek die eerste en grootste hernubare energieprojek van sy soort in die wêreld wat tegnologiemengsel, grootte en prys betref.
# Namibiese Brouerye Beperk is daartoe verbind om teen 2030 nul-uitstralings in sy bedrywighede te bereik as deel van sy volhoubare vervaardigingsplanne. Die hoof van Korporatiewe Sake, Surihe Gaomas-Guchu, sê die onderneming se strategie sluit in die oorgang na 100-persent hernubare elektrisiteit en die vermindering van koolstofuitstralings met 30-persent oor sy waardeketting binne die volgende ses jaar. Sy sê die onderneming beoog ook om afval wat van produksie-geriewe na stortingsterreine gestuur word teen volgende jaar uit te skakel:
# En laastens: ‘n Nuwe studie van die Universiteit van Michigan het bevind 14,8-persent van Amerikaners ontken die werklikheid van klimaatsverandering. Sosiale media-data en kunsmatige intelligensie is gebruik en navorsers onthul politieke verwantskap, veral onder Republikeinse kiesers, is die belangrikste faktor wat klimaatsverandering-oortuigings beïnvloed. Die studie verbind ook klimaats-ontkenning aan lae Covid-19-inentingsyfers, wat ‘n breër skeptisisme teenoor wetenskap aandui. Ander veranderlikes wat die mening oor klimaatsverandering beïnvloed, sluit in die onderwysvlak, inkomste en afhanklikheid van fossielbrandstowwe in streeksekonomieë.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….