Nuus 09:00
BULLETIN 16 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa belowe Suid-Afrika sal nie sy rug op die verdruktes draai nie
# Uitspraak word voorbehou oor die verwydering van die regter in die “Kill the Boer”-saak
# En, die DA vergader met wêreldleiers in Duitsland om vryheid en veiligheid te bevorder
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika mag ‘n klein landjie op die internasionale front wees, maar hy sal nie sy mond laat snoer oor menseregteskendings wêreldwyd nie. Ramaphosa het Donderdag in sy eerste toespraak ooit by die Kaapstadse Persklub verwys na die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne, en tussen Hamas en Israel. Hy het ook oor talle knellende kwessies in die land gepraat. Joernaliste het hom met vrae gepeper oor onder meer die land se immer veranderende buitelandse beleid, beurtkrag en die komende algemene verkiesing.
# Die Appèlhof het uitspraak voorbehou in AfriForum se aansoek dat die waarnemende appèlregter, Raylene Keightley, haar van die “Kill the Boer”-appèlsaak onttrek. In 2023 het die organisasie se regspan die registrateur van die Appèlhof formeel versoek dat Regter Keightley haar onttrek aan die paneel regters wat voorsit oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se dreunsang van “Kill the Boer”. Kallie Kriel van AfriForum sê die aansoek is gebring op grond van ’n vroeëre saak in 2018, waarin Keightley sterk menings teen die organisasie uitgespreek het:
# Die DA woon van vandag tot Sondag die München-veiligheidskonferensie in Duitsland by. Die party se deelname aan dié belangrike internasionale konferensie vorm deel van sy wêreldwye uitreik-aksie om Suid-Afrika se binnelandse belange te bevorder. Die DA wat ferm staan oor grondwetlike waardes, sluit hom aan by wêreldleiers in München om geregtigheid, vryheid en demokrasie regdeur die wêreld te bevorder. Emma Louise Powell van die DA sê die konferensie is ‘n internasionale platform vir wêreldwye debat oor veiligheidsbeleid, ‘n reëls-gebaseerde internasionale orde, demokrasie en vryheid.
# Ghana se Reguleringskommissie vir Openbare Nutsdienste besoek Namibië om saam met die land se Elektrisiteitsbeheerraad te kyk na verskeie aspekte van elektrisiteitsregulering. Die besoek fokus op die uitruil van ervarings en kennis, en om bepalings te vergelyk wat betref elektrisiteitstariewe, beleggings, mededinging, afdwinging en die beskerming van belanghebbendes. Die raad se hoofbestuurder vir Ekonomiese Regulering, Pinehas Mutota, het die belangrikheid van die besoek beklemtoon ten opsigte van die instelling van hervormings in die sektor:
# Rugby: Ierland en Wallis sal dalk in alternatiewe truie speel wanneer hulle mekaar in die toekoms aandurf. Dit is om dit vir kleurblinde toeskouers makliker te maak om na hul wedstryde te kyk. Die kombinasie van Wallis se tradisionele rooi en Ierland se groen truie hou besondere probleme in vir kleurblinde toeskouers, wat dan moeilik wedstryde kan volg. Wanneer Wêreldrugby se nuwe regulasies aan die einde van die jaar in werking tree, sal die onus op die besoekende span berus om ’n verandering te maak, indien nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-199-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-3-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….