Nuus 08:00
BULLETIN 16 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die voorgestelde verlenging van die Spesiale Noodtoelaag
# Airlink stel ‘n nuwe regstreekse diens bekend van Mbombela na Johannesburg en Mosambiek
# En, President Putin versoek die Russe om meer kinders te hê ter wille van sy volk se oorlewing
# Cosatu het die regering se aankondiging verwelkom van sy voorneme om die Spesiale Noodtoelaag vir nóg ‘n jaar, tot Maart 2025, te verleng. Dit sal verdere uitkoms bied aan 8-miljoen werkloses wat dié kritieke armoedeverligting ontvang. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê, hoewel die toelaag baie beperkings het, het dit ’n onskatbare bron van verligting verskaf aan miljoene Suid-Afrikaners sonder ’n inkomste, en het dit ook reeds die grondslag gelê vir die langverwagte basiese inkomstetoelaag:
# Build One South Africa vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om township ekonomiese groei te bespreek in sy begrotingsrede. BOSA bepleit ‘n omvattende plan om die ekonomie op te hef, werk te skep en lewenstandaarde te verbeter. Die party-leier, Mmusi Maimane, het hierdie week entrepreneurs van Soweto ontmoet om hul behoeftes te bespreek, wat gelei het tot aanbevelings vir Godongwana. Voorstelle sluit in, infrastruktuurverbeterings, spesiale ekonomiese sones, en mentorskap-programme. Maimane sien townships as ekonomiese spilpunte met die regte omgewing vir ekonomiese groei:
# Airlink gaan in Julie ‘n nuwe roete van Mbombela na Johannesburg en Mosambiek instel. Die bos- na strandroete sal die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe verbind met die bekende Mosambiekse kusoord, Vilanculos, en Johannesburg. Dit sal tot 5 Januarie volgende jaar op Maandae, Woensdae, Vrydae en Saterdae bedryf word. Die regstreekse diens sal moderne Embraer-stralers gebruik. BusinessTech berig, kaartjies kan reeds gekoop word vir die roete, wat aanvullend is tot Airlink se daaglikse regstreekse vlugte tussen Johannesburg en Vilanculos.
# President Vladimir Putin het Russiese gesinne Donderdag versoek om minstens twee kinders te hê ter wille van die volk se etniese oorlewing, maar drie of meer sodat hulle kan ontwikkel en floreer. Rusland het swaar verliese gely sedert sy inval in Oekraïne bykans twee jaar gelede. Honderde duisende mense het as gevolg daarvan land-uit gevlug uit teenkanting teen die konflik of uit vrees om opgeroep te word. Die land se bevolking het die afgelope twee dekades geleidelik afgeneem ná die ineenstorting van die Sowjet-Unie, terwyl die probleem deur groot uitdagings soos alkoholisme vererger is.
# Gholf: Tiger Woods sê hy is pynvry terwyl hy voorberei vir sy eerste PGA Toer-byeenkoms van 2024 tydens die Genesis-uitnodigingstoernooi. Maar, die 15-malige Major-kampioen sê hy pas steeds aan ná die enkeloperasie wat hy in April 2023 ondergaan het. Woods se skedule was beperk sedert hy sy been beseer het in ‘n motorongeluk in 2021. Hy het hom in April 2023 aan die Meesters onttrek voordat hy sy terugkeer gemaak het by die Hero Wêreld-uitdaagtoernooi in Desember. Hy sê hy het steeds die ambisie om so lank as moontlik te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-202-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-4-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….