Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Februarie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig, president Cyril Ramaphosa sê die regering doen alles in sy vermoë om dit makliker te maak om sake te doen, maar dit gebeur dikwels dat staatsamptenare wat vasgevang is in die ou manier van dinge doen, die proses vertraag.
# En, Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf, die ANC wil oudpresident Thabo Mbeki inspan om die DA se oorheersing in die Wes-Kaap te probeer breek.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig, Suid-Afrika is nou in ‘n volskaalse oorlog betrokke in die Demokratiese Republiek Kongo. Daar bestaan ernstige kommer oor die SA Weermag se vermoë om in die gewapende konflik betrokke te raak, nadat twee soldate dood en nóg drie gewond is.
En tweedens skryf die koerant, SABC2 sal voortaan geen Afrikaanse inhoud meer uitsaai nie. Die oorblywende twee programme word oorgeskuif na SABC3.
# The Star en Pretoria News:
Skryf die EFF-leier Julius Malema het Ramaphosa gekritiseer oor Suid-Afrika se betrokkenheid in die DRK.
En berig oor brandstofprysstygings wat in Maart op motoriste wag.
# En Sowetan:
Berig, al hoe meer jong mense gebruik medikasie eerder as kondome om MIV/Vigs te probeer voorkom . Dit bring egter ‘n styging in seksueel oordraagbare siektes mee.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig, die beskuldigde in die Sorour-moordsaak in Ficksburg, Rudi Gericke, gaan vandag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet aansoek doen dat alle klagtes teen hom teruggetrek word.
En tweedens skryf die koerant oor die gedenkdiens vir die ses slagoffers van die Hoërskool Riebeeckstad-busramp.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met dieselfde hoofberig as Beeld oor die DRK.
En tweedens word berig oor die hondestapper van Somerset-Wes, Rico Joubert, wat ‘n hond uit die Eersterivier gered het nadat sy eienaar hom van ‘n brug af daarin gegooi het.
# En Cape Times:
Skryf, die Patriotic Alliance het ‘n wyk in George by die DA afgeneem in die tussenverkiesing.
En berig, regter John Hlope se hoop is nou op die Hooggeregshof om die Parlement te keer om hom af te dank.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig, twee lede van die Patriotic Alliance in die Nelson Mandelabaai-metroraad het na bewering doodsdreigemente ontvang waarin hulle gewaarsku word om nie teen die burgemeester, Gary van Niekerk te stem nie.
En skryf ná vyf dae se stryd teen vlamme in die berge rondom Kareedouw, spits brandbestrydingspanne hul nou daarop toe om plase, plaasgeboue en huise te beveilig.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf, volgens ‘n verdoemende verslag oor die bestuur van die eThekwini-munisipaliteit het die stad geen sakeplan nie en daar is talle senior bestuursposte wat nie gevul is nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig, die 24-jarige Tristan Losper is tot 19 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy sy jeugvriend, O’Neal de Wee met ‘n mes doodgesteek het.
En tweedens skryf die koerant, beurtkrag in Suid-Afrika het ook ‘n regstreekse uitwerking op die veeboere van Namibië.