Nuus 18:00
BULLETIN 15 Februarie 6nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa voer aan aansienlike vordering is reeds gemaak met die voortslepende kragkrisis
# Die nuwe Lotery-kommissaris beloof om die organisasie te suiwer
# En, Krieket: Indië beleef ‘n goeie eerste dag in die derde toets teen Engeland
# President Cyril Ramaphosa sê die regering maak duidelike en meetbare vordering met die aandag wat geskenk word aan die kragkrisis, wat al langer as 15-jaar voortduur. Hy noem verbeterde instandhouding by Eskom-aanlegte, met beskadigde eenhede wat voor skedule weer aangeskakel kan word. Die president het gereageer op die staatsrede-debat in die Parlement. Volgens Ramaphosa omhels ondernemings en huishoudings dak-sonkrag-installasies teen ‘n ongekende skaal, ondersteun deur regerings-aansporings:
# Die nuwe kommissaris van die Nasionale Lotery, Jodi Scholtz, het onderneem om die organisasie te suiwer ná finansiële ongerymdhede. Fondse wat vir projekte geoormerk is, is opgespoor in persoonlike rekeninge wat tot die aankoop van eiendom gelei het. Scholtz het planne aangekondig om die ouditafdeling te versterk, inspeksies te doen en te begin met regstappe teen onreëlmatighede. Vorige direkteure kan ook tot misdadige direkteure verklaar word, en twyfelagtige organisasies loop die risiko om op die swartlys geplaas te word.
# Die EFF dreig om na die Amerikaanse ambassade op te ruk indien die aanvalle en volksmoord op Palestyne voortduur. Die leier, Julius Malema, het ‘n nuuskonferensie by die party se hoofkwartier in Johannesburg gehou en die onlangse aanvalle op Palestina veroordeel. Hy het Israel en premier Benjamin Netanyahu beskuldig van oortreding van die Internasionale Geregshof se bevel om sy optrede in Gaza te staak. Malema sê die EFF beoog om die Amerikaanse ambassade aanspreeklik te hou vir die oorlog in die gebied:
# Die plaaslike polisie en die FBI het inligting gevra oor gister se skietery tydens die Super Bowl-oorwinningsparade in Kansas City. ‘n Plaaslike omroeper, Lisa Lopez-Galvan, is dood en haar seun en nog meer as 20 mense gewond toe skote afgevuur is tydens die Kansas City Chiefs se vierings. Die FBI het ‘n webwerf opgerig en mense met video’s van die voorval gevra om dit daar te plaas. Drie mense is in hegtenis geneem, terwyl die owerhede die voorval nie beskou as terreurverwant nie.
# Krieket: Indië is in ‘n sterk posisie ná die openingsdag van die derde toets teen Engeland in Rajkot. Indië het 326 vir vyf aangeteken ná ‘n swak begin, toe die eerste drie paaltjies binne slegs 33 lopies geval het. Die kaptein, Rohit Sharma, het daarna 131 aangeteken en Ravindra Jadeja ‘n onoorwonne 110, terwyl Sarfaraz Khan 62 bygedra het voordat hy uitgehardloop is. Mark Wood het drie van die vyf paaltjies geneem. Engeland het die eerste toets gewen en Indië die tweede. Die reeks bestaan uit vyf toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-562-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-vyf-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….