Nuus 13:00
BULLETIN 15 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Veelpartyhandves doen stappe om te verseker verkiesingsuitslae weerspieël wat die mense wil hê
# ‘n Japanse afvaardiging bekyk die potensiaal van Suid-Afrika se groenwaterstofbedryf
# En, krieket: Tweede toets tussen Proteas en Swartpette is op ‘n mespunt
# ActionSA sê die elf partye in die Veelparty-handves vir Suid-Afrika het verskeie buitelandse ministers en ander verteenwoordigers van gepaste organisasies gevra vir bystand om te verseker dat die uitslae van die komende nasionale en provinsiale verkiesing die wil van die mense van Suid-Afrika akkuraat weerspieël. Sam Mgobozi van ActionSA sê hierdie ministers en organisasies is gegrond in die ooste en die weste, die globale noorde en globale suide, sowel as in Afrika:
# Die Japanse Buitelandse Handelsorganisasie lei ‘n afvaardiging van 27 lede op ‘n toer regdeur Suid-Afrika om die land se opkomende groenwaterstofbedryf te verken. Die afvaardiging sal belangrike groenwaterstofterreine in Gauteng en die Wes-Kaap besoek, terwyl hulle met Suid-Afrikaanse belanghebbendes in gesprek tree. Die doel is om samewerking en uitruiling van inligting te bevorder, om die groei van die groenwaterstofsektor te ondersteun. Die toer volg op ‘n groenwaterstofseminaar wat die organisasie Maandag in Johannesburg aangebied het.
# Die Keniaanse Natuurlewediens het 21 Oosterse swartrenosters van reservate soos Ol Pejeta, Lewa en die Nairobi Nasionale Park na die Loisaba-reservaat verskuif. Die operasie is deel van die nasionale projek om renosters se gebied uit te brei. ‘n Navorser van die Keniaanse Natuurlewediens, David Ndeere, sê die doel van die projek is om bykomende ruimte vir Kenia se swartrenosterbevolking te skep om te floreer en die hele land te bevoordeel:
# Krieket: Die tweede en laaste toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland het uiteindelik in ‘n baie groter tweestryd ontaard. Die Proteas is in hulle tweede beurt uitgeboul vir 235, wat aan die Swartpette ‘n wenteiken van 267 lopies gestel het – ʼn rekordtelling op Seddon Park in Hamilton om te jaag. David Bedingham, wat sy eerste toets-honderdtal aangeteken het, was Suid-Afrika se sterspeler terwyl William O’Rourke vyf paaltjies laat kantel het. Die tuisspan het teen uitskeityd op dag drie op 40 vir een gestaan, met nog 227 lopies nodig om te wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-137-dollar-19-sent. Die prys van goud is een-duisend-994-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-61-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Nasionale Rolprent- en Video-stigting nooi ervare rolprentmakers én diegene met beperkte ondervinding om aansoek te doen vir befondsingsgeleenthede vir die 2024/25-boekjaar. Aansoeke is oop vir ontwikkeling Vlak 1 en 2, produksie, na-produksie en argief. Ontwikkelingsvlak 3-projekte oor fiksie- en nie-fiksiekategorieë, sowel as die produksie van web-reekse oor alle vlakke heen is van befondsing uitgesluit. Aansoekers word aangemoedig om hul aansoeke voor 23 Februarie in te dien vir voorkeur- voldoeningsbeoordeling. Aansoeke sluit die agtste van volgende maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….